Eerste klag vir verspreiding van fop Covid-19 nuus deur plaaslike dokter teen Facebook-kommentator gelê
Verveelde mense wat hulle wend tot sosialemedia-platforms om leuens oor die Covid-19 pandemie te versprei, of onbevestigde boodskappe te deel, se doppies is geklink.
Mid Dok 24 ongevalle dokter, dr. John Welsh, het die dorp se eerste formele klag teen die verspreider van fop Covid-19 nuus, teen mnr. Christo de Bruin by die plaaslike polisie gaan lê.
Die polisie het dit bevestig en gesê dat die saak ondersoek word, maar geen arrestasies nog uitgevoer is nie.
Mnr. De Bruin het verlede week, nadat twee mense in Middelburg positief vir die gevreesde virus getoets het, ’n boodskap op www.mobserver.co.za in die kommentaarseksie geplaas, wat insinueer dat die wol oor inwoners se oë getrek word deur die dokters, media en regering, omdat daar drie mense in Life Midmed se hoësorgeenheid lê met Covid-19.
Die boodskap, wat mnr. De Bruin sê hy bloot van ’n ander sosialemedia platform af gedeel het, lees verder dat daar ook ’n inwoner van Dennesig positief getoets het.
Die inligting is onwaar.

“Hoekom sal ons as dokters lieg?” het dokter Welsh aan www.mobserver.co.za gesê, en bygelas dat onakkurate inligting nie net die publiek paniekerig gehad het nie, maar ook hospitaalpersoneel wat glo dat daar vir hulle gejok word.
Volgens amptelike regeringstatistieke het Middelburg nog net twee positiewe Covid-19 gevalle.
Mnr. De Bruin sê hy het die inligting gedeel, en weer verwyder weens onmiddellike kritiek, “sodat inwoners vir hulself kon uitvind of dit waar is of nie”.
“Dis juis wat ons nie wil hê nie, honderde oproepe na die hospitaal waartydens mense ons uitskel, omdat ons glo jok, en op die waarheid aandring,” sê dr. Welsh.
Mnr. De Bruin sê dat hy ook onder die indruk was dat “Midmed hospitaal in alle dorpe is, maar dat ’n vriend my reg gehelp het”.
Hy sê hy is bereid om ’n openbare verskoning vir Life Midmed, die dokters, die hospitaal personeel, die regering, die media en die breër publiek aan te bied.
Die polisie waarsku dat daar streng opgetree sal word teen enige inwoner wat vals nuus verder versprei.