Vliegtuig het lank terug geland
’n Ou foto, van ’n vliegtuig wat by Alzu Petroport brandstof ingooi, word weer wyd op sosiale media gedeel.
Daar is in Maart 2016 berig oor die aardige gesig toe gesoute vlieënier Milne Pocock met sy Cesna 172 by die vulstasie geland het, dit met die hulp van bystanders tot by die petrolpomp gestoot het om brandstof in te gooi en toe sommer iets te ete gehad het terwyl hy wag.
Mnr. Pocock het destyds verduidelik dat hy dit gedoen het uit protes teen Burgerlugvaart se beoogde wetgewing om dit onwettig te maak vir ligte vliegtuie om elders as geregistreerde lughawens te land.
Hy sê dat hy alle veiligheidsmaatreëls gevolg het en op ’n grondpad, wat spesiaal breër gemaak is, langs die vulstasie geland het. Hy het destyds gewaarsku dat vlieëniers wat hom wil nadoen nie op die teervlak moet ry met die vliegtuigmotors nog aangesluit nie, maar dit liefs met behulp van die sekuriteitswagte of petroljoggies moet stoot.
• Mnr. Pocock se besigheid Bush Air Advanced Bush & Mountain Flying Training het al op Discovery se program Deadliest Jobs verskyn.
