News

Polisiemanne vat gesin in nood se kos terwyl kleinkinders moet toekyk

Om in hierdie tye van kospakdonasies afhanklik te wees, is vir sommige mense ’n bitter belewenis. Wanneer jy moet toekyk hoe daardie kospakkies deur drie polisiemanne oomblikke later weggedra word, skree ten hemele.

Die ergste is dat ’n familie, waaronder twee kleinkinders van vyf en 12, moes toekyk hoe word hulle koshulp weer die huis uitgedra.

’n 53-Jarige man beweer die voorval het ’n Dinsdagaand twee weke gelede plaasgevind.
Hy is vreesbevange vir intimidasie en wil nie sy identiteit bekend maak nie.

Nadat ’n apteker gister van sy verhaal gehoor het, is www.mobserver.co.za gekontak “sodat die wêreld moet weet van die polisie se wangedrag”.

Die slagoffer vertel dat daar ’n vrou in hulle omgewing bly, wat dit haar missie maak om die polisie te skakel, wanneer tuinwerkers of huishulpe werk en hy vermoed dit is dieselfde vrou wat die polisie gebel het toe hulle kospakkies afgelewer is.

Hy het nie gevra watter organisasie help hulle nie.

Weens die inperking het sy kontrakte om huisverbeteringe te doen, opgedroog en gaan dit broekskeur.

Hy beweer dat drie polisiemanne aan die deur geklop het kort na die kospakkies laataand afgelewer is.

Die drie polisiemanne het glo geweier om hulself te identifiseer en gevra of “dit witmense is” wat die kos afgelewer het.

Hulle het gesê die kos moet na ’n sentrale punt op die dorp geneem word, anders is die verspreiding daarvan onwettig.

Die polisiemanne het die kos en ook ander kos wat in die huis was, gevat.

“Ek het my respek heeltemal vir die polisie verloor,” sê die man.

Hy is later na die polisiestasie om ’n klag te lê, waar ’n polisieman glo sy selfoon uit sy hand geklap en die gesprek uitgewis het, wat hy besig was om op te neem.
Soortgelyke voorvalle het glo in Mineralia plaasgevind, maar die inwoners is te bang om daaroor te praat.

Mnr. Llewellyn Hemmens, Afriforum se veiligheid koördineerder, Noord Streek, het die slagoffer bygestaan.

Hy sê daar is ’n goeie gesprek met die Middelburg Polisie gevoer, wat die vinger wys na ’n buurstasie en aangebied het om die man by te staan sodat die klagte verder gevoer kan word.

Die betrokke polisiemanne is volgens alle aanduidings ook by ander soortgelyke voorvalle betrokke.

“Ons gaan druk op albei polisiestasies plaas om te sorg dat die voorval nie onder die tafel ingevee word nie,” het mnr. Hemmens gesê.

Kaptein Khanisile Zwane, polisie woordvoerder, is genader vir kommentaar maar het nog nie na www.mobserver.co.za teruggekeer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button