News

Die jaar van die virus

Dit sal in die geskiedenisboeke aangeteken staan as die jaar van die virus: Covid-19, 2020.

Covid-19, 2020!

Sê so min, maar die omvang, die impak, die intriges, die regulasies, die wette, die polisie, die weermag, die swaarkry, die honger, die kospakkies, die belaglikheid is onbeperk.

Daar sal in die jare wat kom vele gesprekke wees oor die drankverbod en die onwettige sigarette.

Mense sal nie weet of hulle weer moet huil of weer moet kwaad word nie.
Tussen alles is daar soos altyd ’n lag by die gelag.

Ry verby Kosmospark waar ’n bejaarde in die tuin werskaf. Druk vir hom toeter en waai vriendelik, hy waai met sy elmboog terug!
Mans kyk mekaar vraend aan, moet ek handskud of moet ek nie?

By ’n besigheid staan daar: “Glimlag wanneer jy hier instap.” Agter daai masker kan niemand sien wie glimlag nie.

By die Mall word vroue beveel om agter in karre te klim, met die man wat bestuur. ’n Uur of wat later deel hulle ’n huis en nog later ’n bed (ons hoop).

Terwyl verskeie moordsake op die dorp onopgelos is, jaag drie polisievoertuie na ’n huis. Die oortreding? Die huishulp werk!
En so word mense betaal om by die huis te sit en niks doen nie en die wat wil werk word in die tronk gegooi.

’n Inwoner ry om sy bejaarde oom te gaan help, om ’n lekkende dak reg te maak. Hy het ’n permit om te werk, maar nie om dakke reg te maak nie.

Dit is skielik net blouligte. Sy voertuig word deursoek en selfs sy gereedskapkas word bekyk vir onwettige sigarette. Hy word terug beveel huistoe, met die waarskuwing, dat hy ’n volgende keer agter tralies kan beland. Die dak lek steeds.

Sondagoggend staan agt werkers van ’n supermark in die middedorp in ’n kringetjie sonder maskers en hoender eet, lek hulle vingers af en druk hande so saam in die hoendersous. Jy mag nie ’n dak regmaak wat lek nie, maar jy mag saam hoender eet en jou vingers aflek.

Behoede ons!

In die begin van die inperking was virtuele kerkdienste en boodskappies inspirerend en gewild. Nie meer nie. Min mense wil ’n halfuur spandeer aan ’n selfoonkerkdiens. Predikante en pastore probeer hulle bes om die uitsendings meer interessant te maak, maar jou sitplek in die kerk Sondae raak ’n al groter gemis.

Nog nooit is daar so baie gepraat oor drank en sigarette nie, die grappies onophoudelik.

Die grap is dat die vinger gereeld wys na polisie betrokkenheid by die onwettige verkoop van drank en sigarette.

Net soos 1994 se blikkieskos versamel en kragopwekkers aankoop, gaan daar nog vir jare gepraat word oor die jaar 2020 van onse Liewe Heer.

Die verskil is, oor 1994 kan ons lag…2020 is geen grap nie…

Inwoner van die week: Faith Mufanebadza wat ’n Ghanese gesin te hulp gesnel het, wat weer 15 ander gesinne met hulle koshulp gehelp het.

Doring van die week: “Social distance!” Wat ’n grap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button