Harte oopgemaak vir gesin waar polisie glo kos vat
“Dit voel soos Kersfees in die huis.” So sê ’n inwoner wat beweer dat drie polisiemanne die gesin se kospakkies afgevat het.
Lesers van www.mobserver.co.za het hulle harte oopgemaak, sedert die berig verskyn het en genoeg vleis en ander kos by die gesin laat aflewer.
Die man het in trane uitgebars toe hy die eerste kospakkies van weldoeners gekry het.
Die Vryheidsfront, DA en Afriforum het www.mobserver.co.za ook geskakel om die saak verder te voer.
Die man sê drie polisiemanne, wat hulself nie wou identifiseer nie, het by sy huis opgedaag, kort nadat daar kospakkies afgelewer is.
Lees ook: Polisiemanne vat gesin in nood se kos terwyl kleinkinders moet toekyk
Die man doen herstelwerk en verbeterings by huise maar sy inkomste het weens die inperkings opgedroog.
Hulle maak soos vele ander gesinne staat op koshulp.
Hy vermoed iemand in die straat waar die gesin woon en bekend is as nuusdraer by die polisie, het hulle weggegee.
Die polisiemanne het glo gesê die kos mag nie by huise afgelewer word nie, maar na ’n sentrale punt gaan vir verspreiding.
Lesers het woedend reageer en hulle ongelukkigheid veral teenoor die klikmond uitgespreek.
Kaptein Khanyi Zwane sê daar was ’n gesprek met die klaer en sodra sy verklaring ontvang is sal die saak waarskynlik na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) verwys word.
Die plaaslike polisie het ook aangebied om die gesin met kos by te staan.
