Pastore ruk op na polisiestasie
Die polisie het die week gewaarsku dat geen begrafnisse in kerke toegelaat sal word nie, en dat diegene wat dit bywoon, gearresteer sal word.
Kaptein Khanyesile Zwane sê die staatskoerant is duidelik dat niemand by kerke mag saamdrom nie, maar dat daar wel ’n maksimum van 50 begrafnisgangers by die graf mag saamkom.
Middelburg se kerkleiers het Maandag op die aanklagkantoor toegesak, nadat daar Sondag afskeid geneem is van die voorsitter van die raad van medieseskemas, dr. Clarence Mini, in ’n kerk in Fourways, met dr. Zweli Mkhize, Lindiwe Sisulu en dr. Aaron Motsoaledi teenwoordig.
Dr. Mini is op 12 Mei oorlede aan Covid-19 verwante oorsake, na meer as ’n maand in die hospitaal met die virus.
Sy oorskot en kis was voor in die kerk, waar daar wel sosiale afstand tussen begrafnisgangers gehou is.
Dr. Tinus van der Merwe van die Lighuis gemeente sê dat hulle op gepaste manier van pastoor Fanie Cronjé se pa, mnr. Johannes Jacobus Cronjé, wat aan natuurlike oorsake oorlede is, afskeid wou neem met ’n diens in die kerk.
Bywoning is beperk tot 50 mense wat elk twee meter van mekaar af moes bly, en nie verversings na die diens kon geniet nie.
Die kerk is ontsmet en die nodige beskermingsmiddels soos maskers en handskoene was beskikbaar.
Die begrafnis sou verlede Saterdag plaasvind, maar Vrydag is dr. Van der Merwe laat weet dat die kerkdiens nie toegelaat sal word nie.
“Ek kan nie kommentaar lewer of die ministers reg of verkeerd was om die begrafnisdiens by te woon nie, ons werk streng volgens die staatskoerant regulasies wat enige kerkdiens verbied,” het kaptein Zwane Dinsdag, na Maandag se vergadering met die kerleiers, gesê.
Stasiebevelvoerder, brigadier Thandi Jiyane, was ook teenwoordig.
“Ministers en regeringslui kan begrafnis hou maar ons nie, waar is die regverdigheid, is een Suid-Afrikaner dan belangriker as ’n ander?” vra dr. Van der Merwe.
Kaptein Zwane het onderneem om die kwessie by Dinsdagaand se vergadering met die munisipaliteit, nooddienste, SANDF en ander wetstoepassers, op die besprekingslys te plaas, “maar tans is dit duidelik, geen kerkdienste nie!”.
Kaptein Zwane is egter op die hoogste vlak van die SAPD weerspreek.
www.mobserver.co.za het met brigadier Mathapelo Peters gepraat, wat gesê het dat daar nêrens staan waar begrafnisdienste gehou mag word nie.
Sy sê egter dat streng maatreëls oor bywoning, soos wie daar mag wees tot en met 50 persone, geld.
“Daar staan nêrens dat begrafnisdienste nie in kerke gehou mag word nie, maar net direkte familielede, aangetroudes en mense wat hegte sielkundige en emosionele bande met die oorledene gehad het, tot ’n maksimum van 50 persone, sal toegelaat word,” sê brigadier Peters.
Permitte word intussen ook nog deur die polisie en landdroshowe uitgereik, aan mense wat vir begrafnisdienste wil reis.
“Ons sal hou by die reëls, maar dan moet die reëls vir almal dieselfde wees, ministers ook,” sê dr. Van der Merwe.
Hy versoek dat die ministerie duidelike direktiewe landwyd uitreik wat die polisiediens op dieselfde golflengte sal bring.
“Dis duidelik die regering praat nie uit een mond nie”.
•Die dorp se leraars sê virtuele dienste trek ook nie meer aandag nie, omdat inwoners ’n behoefte aan menslike kontak het, “dit sluit begrafnisse in,” sê dr. Van der Merwe.
