Mampoerstook tradisie herleef
Toe Anton Gilfillan ’n video op sosiale media plaas, het hy nie besef dat dit soos ’n veldbrand sou versprei nie.
Skielik, het ’n hele wêreld, ’n kultuur wat oor die jare uitgesterf het, weer herleef. Sy foon lui aanhoudend met tot 700 WhatsApp boodskappe.
Die plaaslike ingenieur, wat uit staal melk- en mampoer ketels maak, stook mampoer as ’n stokperdjie.
Hy maak nog al die jare graag opvoedkundige videos, waar hy stap vir stap die stookproses verduidelik.
Hy was onder die indruk die mampoerstook kuns, wat veral onder die ouer boere-gemeenskappe ’n groot ding was, onder die jonges verlore gegaan het. Tot sy video oor mampoerstook soveel belangstelling uitgelok het.
Afrikaners regoor die wêreld, vanuit Nieu Sealand, Argentinië, Australië, Mosambiek en die Kongo, het hom knaend gebel met resepte waarvan hy in sy 60 jaar nog nooit gehoor het nie.
Maar dis meer as net mense wat desperaat opsoek is na ’n dop. Die resepte wat oor sosiale media onder die stokers uitgeruil word, is met soveel sorg en moeite uitgewerk, dat dit ’n fyn kuns is.
“Daar was nog altyd ’n mentaliteit onder party mense dat mampoerstook ’n dronkmens ding was, maar die kultuur agter mampoerstook, en al die moontlikhede, is ’n bewys van al die kennis wat ons ouers gehad het, wat intussen verlore gegaan het. Nou is dit weer besig om vlam te vat. Kyk na iets so eenvoudig soos vleis. Ons stap by ’n winkel in, en jy het ’n keuse tussen maalvleis, wors en steak. In die ou dae kon ons ouers ’n skaap vat, en iets doen met elke stukkie. En dis hoe dit is met die mampoerstook.”
Hy het intussen van boere gehoor wat gebruik maak van piesangs, pampoen, soetpatats, tamatiepuree en molasse. Selfs turksvye en turksvyblare word gebruik in van die resepte.
Anton se videos kan op YouTube gesien word, waar hy die funksies van ’n mampoerketel en die stookproses verduidelik.
Hy sien ook uit na ’n groot aand van mampoerproe, wanneer die grendelstaat eers verby is.
Inwoners wat die afgelope tyd wyn of bier gestook het en self ’n paar interessante resepte het, word uitgenooi om die resepte te deel.
E-pos jou resep aan sjani@mobserver.co.za.
