• Dr. Theuns Botha sê dat hy die afgelope maand amper ’n kwart van sy normale omset het. Hy sê dat baie mense ook nie geld vir bybetalings het nie. Hy bedryf ’n eenmanpraktyk en kwalifiseer nie vir swartbemagtiging en die Covid-19 noodfonds nie.
“Een voordeel is dat die lewe baie stadiger verbygaan. Daar is tyd vir die personeel om met mekaar te gesels, iets wat daar nie voorheen was nie,” het dr. Botha gesê.
• Dr. André Grobler sê dat hulle praktyk ook net sowat 30 – 40 % van hul gewone pasiënte sien. Hy sê dat al die dokters in die oggende werk, maar dat daar in die middae net een dokter aan diens is omdat dit baie stil is.
Dr. Grobler sê dat hy bekommerd is, omdat mense uit vrees dat hulle Covid-19 gaan kry, wegbly van dokters en hospitale terwyl hulle dan die risiko loop om aan iets anders dood te gaan.
“Die sterftesyfer vir mense wat griep kry is 6,9%, die huidige sterftesyfer vir mense met Covid-19 in Suid-Afrika is sowat 1,7% en globaal is dit net meer as 6%.”
Hy voel dat die lewe sou gou as moontlik na normaal moet terugkeer.
“Mense is deur die owerhede bang gepraat om op ’n natuurlike manier weerstand op te bou teen die virus, iets wat in die volgende twee jaar sal moet gebeur,” meen hy.

Dr Grobler raai egter, soos ander dokters, aan dat mense wat in kontak was met iemand met Covid-19 of koors, keelseer, hoes of ’n benoude bors het, hul dokter telefonies moet kontak eerder as om persoonlik spreekkamer toe te gaan.
• Die Life Midmed hospitaal sowel as die Mediese Nood Vereniging van Suid-Afrika het Maandag persverklarings uitgereik, waarin hulle mense aanmoedig om hospitale te besoek sou dit nodig wees.
Die Mediese Nood Vereniging skryf dat hulle besef dat mense uit die noodafdelings by hospitale wegbly, gedeeltelik omdat hulle mense gevra het om dit te doen, terwyl hulle voorberei vir die Covid-19 pandemie. Hulle verseker die publiek egter dat al die nodige voorbereidings nou getref is en dat ’n besoek aan die hospitaal nie meer risiko inhou as om kruideniersware te gaan koop nie.
Die vereniging raai mense aan wat normaalweg, voor die inperking en pandemie, hospitaal toe sou gaan vir mediese hulp, om dit steeds te doen tydens die inperking.
Hulle waarsku ook dat versuim om vir mediese hulp te gaan as jy dit nodig het, uit vrees vir Covid-19, mense sieker kan maak en selfs hulle lewens kan kos.
Die Life groep het in hul verklaring gesê dat die Life Midmed hospitaal oop is vir noodgevalle en ook steeds pasiënte opneem.
Charl van Loggerenberg, algemene bestuurder van die Life groep, het gewaarsku dat kroniese siektes deurlopende sorg en monitering nodig het, sodat daar vroegtydig ingegryp kan word tydens komplikasies en dat mense nie uit vrees moet wegbly van dokters af nie.
Hy sê ook dat mense wat mediese noodgevalle of ernstige Covid-19 simptome het, dadelik by ’n hospitaal moet uitkom. Mnr. Van Loggerenberg raai mense met mediese noodgevalle, veral die wat Covid-19 het, aan om die hospitaal te kontak voor hul aankoms, sodat die nodige voorbereidings getref kan word.
Bevestigde en vermoedelike Covid-19 gevalle word na aparte areas as gewone pasiënte geneem.
Mense wat vermoed dat hulle vir Covid-19 getoets moet word, word steeds aangeraai om telefonies met hul huisdokters, of die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in kontak te kom.
