Hotelle, lodges, wegbreekoases sluit een na die ander
Die vernietigende uitwerking wat die Covid-19 pandemie op die toerismebedryf het, is besig om een na die ander landmerk se voortbestaan te bedreig.
Forever Resorts het die week aangekondig dat hulle die bergpiek oase, Waterfall Safari Lodge, gaan sluit. Die Forever groep oorweeg ook die sluiting van White River Lodge in die Laeveld, omdat dié hotel hoofsaaklik afhanklik is van buitelandse toeriste, wat eers op vlak 1 van die huidige grendelstaat weer na die land kan reis.
Besturende direkteur, mnr. Kobus Tait, het aan www.mobserver.co.za genoem dat binnelandse toerisme eers op vlak 2 van die grendelstaat toegelaat sal word.
Tans is Suid-Afrika op vlak 4 regulasie wat interprovinsiale reise verbied.

Forever besit naas die Loskopdam oord en die meer intieme Waterfall Safari Lodge, die Ruby Cliff perdeplaas, Isiyale Lodge, Leopard’s Trail, Matombu Lodge en Silver Falls, wat almal op die N11 tussen Middelburg en Loskopdam geleë is.
Die slegte nuus volg op die aankondiging van die Leriba Hotel Groep dat die Leriba Hotel Centurion se vyfster fasiliteite onder sakeredding geplaas is, en daar tans met moontlike kopers onderhandel word.
Die Leriba Hotel Centurion is een van drie luukse eiendomme in die groep se besit en groephoof en eienaar, mnr. Peet du Preez, sê dat die Leriba Kus Lodge tussen Durban en Ballito, en die Leriba Bos Lodge in Phalaborwa, oop sal bly.

Mnr. Du Preez sê dat daar binne en buitelandse belangstelling in die Leriba Hotel Centurion is, en dat ’n prys van minstens R80 miljoen, ver onder die bankwaarde vir die luukse hotel, gesoek word, wat die twee eksklusiewe restaurante, spa, gimnasium en ander bates, insluit.
Die hotel het die afgelope paar jaar gasheer gespeel vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se jaarlikse bekroningsaand.
Mnr. Du Preez deel mnr. Tait se sentimente dat verdere beperkings op die gasvryheidsbedryf weens Covid-19, onomkeerbare skade sal aanrig.
Mnr. Tait sê dat daar eersdaags met president Cyril Ramaphosa vergader sal word, om die toelating van binnelandse toerisme op vlak 3, en buitelandse toerisme op vlak 2, ingestel te kry.
