
Henriët Griesel spring, swaai en wip in die lyf van ’n 61-jarige, maar met die kop van ’n 16-jarige.
Sy is die moeder van alle oefeninge op die dorp.
Hoe dan anders? Reeds 34 jaar gelede het sy met die Middelburg Trimgym inwoners laat sweet by die Kees Taljaard Stadion.
Vandag staan haar oefenklasse bekend as Some-Body Fitness Studio.

Wanneer jy haar uitvra oor die voordele van die klasse wat sy aanbied, borrel dit uit:
“Dit maak mens gelukkig.
“Jou persoonlikheid verander positief.
“Jy hoor goeie musiek.
“Jy vorm vriendskappe.
“Dit gee jou ’n ander uitkyk op die lewe.
“Almal motiveer mekaar.
“Mans sê hulle vrouens is beter mense, wanneer hulle oefen.”
Maar hoe hou sy dit al vir so lank vol?
“Dit is my passie. Ek love dit om mense te help. Jy oefen vir ’n uur jou longe los en kom dit nie eers agter nie.”

Daar is ’n paar vasbyters wat oor die jare vele emmers sweet saam met Henriet gestort het, soos Marié Muller en Elsa van Wyk en die egpaar Abel en Elsa Bronkhorst.
Party vroue het na ’n tyd veel kleiner en slanker by klasse opgedaag – een van hulle 35 kilogram minder en die ander 25 kilogram.
Geen wonder nie, want daar word tot ’n duisend kalorieë met een klas verbrand.
Anne Venter het nie net topfiks geword nie, maar later ook ’n top liggaamsbouer.
Die oefengroep in hulle kleurryke uitrustings, was ’n instelling by die jaarlikse Vat Vyf-fees wat in Van Blerkplein aangebied is.
Dan was daar deelname aan die negende wêreld gimnastrada in Amsterdam (Nederland), die Aerobiese Extravanganza, die Wêreld Aerobiese Kampioenskappe in San Francisco, waar Henriet en haar spanmaats met die goue medalje wegstap en die Trimgim Extravanga in 1992.
Die meisie van Steynsburg laat haar duidelik deur niks onderkry nie, ook nie deur inperking nie. Sy was nie verniet van standerd ses af tot matriek haar skool se Victrix Ludorum nie.

Haar lede kry elke dag ’n video van hulle oefeninge en sy was verras deur die entoesiasme.
En wanneer die inperking verby is en jy wil sien hoe verander Henriët mense se lewens, gaan kyk Dinsdae hoe sweet die dorp se bejaardes by die SAVF Ouetehuis op die maat van Modern Talking.
Wanneer die laaste passie gegee is roep hulle uit: “Maar wat van die Macarena?” en is dit weer “Hey Macarena!”
Om die stywe lywe aan die oefen te kry, word sy bygestaan deur Chrisna Janse van Rensburg en haar dogter, Chantelle Etsebeth.
Maar wanneer gaan sy ophou?
“Wanneer ek doodgaan!”
