Brandweer ontsmet skole
Skole voel die finansiële impak van die inperking tydens die Covid-19 pandemie. Met talle inwoners wat hul werk verloor het of tydens die inperking sonder inkomste gelaat is, is daar uit alle oorde kommer uitgespreek oor die betaal van skoolfondse.
’n Ouer het in ’n brief aan www.mobserver.co.za geskryf, dat hulle nie kan verstaan hoekom skole nie afslag kan gee op skoolfonds as hulle vir so lank toe was nie.
Die anderkant van die muntstuk is dat skole onder toenemende finansiële druk is, met lopende rekeninge soos elektrisiteit en die salarisse van beheerliggaamposte om te betaal, asook bykomende uitgawes wat Covid-19 veiligheidsregulasies soos sanitasiemiddels en persoonlike beskermingstoerusting as die Departement van Onderwys hulle nie bystaan daarmee nie.
Nie een van die plaaslike skole in Middelburg of Mhluzi met wie daar gepraat is, het teen druktyd die hulpmiddels soos beloof, van die Departement van Onderwys ontvang nie. Al die skole is egter in die afgelope week deur die brandweer ontsmet.
• Mnr. Gerrie van der Merwe, hoof van Laerskool Middelburg, sê dat daar ’n drastiese afname in betaling van skoolfonds is. Hy het ouers aangemoedig om met die finansiële kantoor in kontak te kom om reëlings te tref, sou hulle probleme ondervind.
• Middelburg Primary se mnr. Renier Loubser sê dat alhoewel daar ’n effense afname in skoolfonds is, sy ouers grotendeels baie lojale betalers is. Hy sê dat hulle die jaar se begroting hersien het en kreatiewe planne gemaak het om hul somme te laat klop.
“Daar is ouers wat swaarkry. Ons het ’n plan. Jy moet jou begroting laat klop, maar jy moet ook nie vergeet nie, jy werk met mense. Ons sal ons bes doen om ouers tegemoet te kom,” sê mnr. Loubser.
• Mnr. Pieter Fouché, van Laerskool C.R. Swart, sê dat hulle ’n drastiese afname in die betaling van skoolfondse ervaar.
Die skool het ouers versoek om reëlings te tref as hulle nie kan betaal nie, maar die handjie vol wat daarop gereageer het, stem nie ooreen met die groot aantal ouers wat versuim het om te betaal nie.
Daar heers algemene kommer onder skole omdat hulle nog nie die beloofde hulp van die regering, soos maskers en ontsmettingsmiddels, ontvang het nie.
• By Hoërskool Middelburg sê mnr. Johan Stronkhorst dat daar minder ouers is wat hul skoolfonds betaal het, maar dat die meeste vooraf reëlings met die skool getref het.
“Dit is ouers wat self hul inkomste verloor het. Ons het nie onverskillige ouers nie,” sê hy.
• Mnr. Hoppie van Jaarsveldt, van HTS Middelburg, sê dat mens oral hoor van mense wat hul werk verloor het.
“Mense moet kan eet en leef, dan bly daar dinge in die slag, soos skoolfonds,” sê hy.
Hy sê dat hulle die skool se begroting gesny het om seker te maak dat hulle salarisse en rekeninge kan betaal, maar voorspel dat dit dalk oor ’n paar maande slegter kan gaan en dat daar nog finansiële opofferings gemaak sal moet word.
Mnr. Van Jaarsveldt sê dat hulle ’n termometer by die departement gekry het maar nog wag op ander toerusting soos maskers en ontsmettingsmiddels.
• Jasper Zwane, woordvoerder vir die Departement van Onderwys, is genader vir kommentaar oor die kwessie dat skole onder toenemende finansiële druk is en dus staatmaak op hulp van die departement af vir goedere soos ontmettingsmiddels en maskers. Hy is ook gevra of die departement hulpmiddels gaan aflewer voor die skole Maandag begin. Mnr. Zwane het beloof om teen Woensdag terugvoer te gee, maar het dit nie voor druktyd gedoen nie.
