Ons stel bekend: Die Volkswagen Korona
Ons stel bekend, Volkswagen se nuutste model, die Corona!
Ja liewe lesers, daar is nou ’n Volkswagen Corona in die mark, met die komplimente van die grootste haelstorm wat Middelburg nog getref het.
Dit is geen “Herbie Goes bananas” of “Herbie goes to Monte Carlo” nie, maar eerder “Herbie rides again”.
In hierdie geval is dit Sonja en Domingo Lira se Volkswagen wat vol duike geslaan is, wat danksy die koronavirus steeds sy werk doen.
Op die eerste dag van die grendelstaat het Middelburg die ergste haelstorm ooit beleef en die Lira-egpaar se geliefde 1996 Volkswagen is nie net vol duike geslaan nie, maar die windskerm het ook in die slag gebly.
Dit is net hier waat die koronavirus tot hulle redding gekom het. Elke duik is met ’n netjiese ronde koronaplakker versier en op al die kante is daar ’n waarskuwing om jou hande te was en afstand te hou.
Behalwe vir die kar vol kolle is die sitplekoortreksels ’n tiermotief met ’n speeltier wat by die agterste venster waak.
Die kar vol kolle het al vir konsternasie gesorg, met besighede wat ’n skuldige gewete het, wat vinnig hulle deure gesluit het omdat hulle dink dit is “korona-amptenare” wat op hulle toesak.
