Dorp ontwaak van maandelank se inperking
Trekkers loop, kantsnyers sing soos sonbesies en ’n paar meter verder grawe ’n voorhaker meedoënloos om ’n stappad wat met water oorstroom is, weer gangbaar te maak.

Pype bars, inwoners sit sonder water, maar in ’n japtrap word ’n sms uitgestuur, waar die probleem is en wat daaraan gedoen word.
Paaie word opgekap om die gebarste pyp te herstel en ’n week later is die pad weer geteer.
Parke word skoon en netjies gehou.
Die begraafplaas is ’n lushof.
Maandag word ons brandweer ingespan om skole te ontsmet, ander dorpe het nie eers meer ’n brandweer nie.
Dit liewe lesers, is die tekens van ’n dorp se munisipaliteit wat werk.
Sondag loof minister Lindiwe Zulu die wyse waarop ons dorp sy haweloses sedert die inperking versorg.
Jy voel weer trots om ’n Middelburger te wees.
Nou moet die Steve Tshwete Munisipaliteit net sy dienste weer slaggereed kry sodat karre verkoop kan word en huisverkope nie sloer nie.
Daar wag nog vele uitdagings op ons, maar as ons aanhou om die klein dingetjies op ons dorp reg te doen, gaan ons groot dinge later bereik.
Inwoner van die week: Diegene wat almal betrokke was om die paadjie tussen Dennesig en Kanonkop weer stapbaar te maak.
Doring van die week: Blêrrie virus!
