News

Hommeltuig lewer brandewyn af

Daar is die ou grappie van ouma wat vir Jannie en Sannie agter die kraalmuur betrap, in ’n vurige omhelsing en dan waarsku “julle moet net nie rook nie hoor!”

Suid-Afrika het ook ’n “ouma”, die agbare Nkosazana Dlamini-Zuma.
Julle kan enigiets doen, julle moet net nie rook nie, hoor!

Natuurlik is die agbare minister op ’n kruistog om die land rookvry te maak.
Probleem is net, hoe meer die minister sê “stop!” hoe meer trek die rook.

Hoor “toevallig” ’n gesprek van ’n vrou waar sy ’n bestelling plaas: “Bring vir my drie cartons van daardie soort, nee maak dit sommer vyf, jy kan vir my nog sewe van daardie soort bring” en so gaan dit aan. Waar op dees aarde hou iemand in hierdie tye nog soveel sigarette aan?

Vra terloops wat kos die bestelling: “R500 per karton, tien pakkies teen R50 ’n pakkie”. Dan die gerusstelling: “Ander ouens betaal R750”.
Nog ’n groot roker trek gesig: “Zuma dwing ons om hierdie gras te rook”.

Die prys vir goedkoop “gras” is steeds R50 ’n pakkie.

Ons agbare minister van samewerkende regering pas natuurlik perfek in haar portefeulje van samewerkende. NDZ se groot vrees is dat landsburgers saamwerk en meer as een persoon ’n sigaret gaan deel en so die gevreesde virus versprei.

Maar dan moet die minister enige vloeistof in ’n houer en alle kos verbied.
Dis mos ons tradisie om te deel?

Lank gelede na ’n Black Aces wedstryd saam met Junior Ngobe, Cyprian Maimane, Jabu Masina en daai snare na ’n kuierplek gegaan, witmense het dit ’n sjebien genoem. Daar is groot quart Black Labels gedrink en natuurlik was ons mededeelsaam.

Stap gereeld na my gunsteling supermark en raak lus om sommer saam met die mense te eet wat so vingerleklekker hulle hoendersous met pap deel. Studente eet nie een-een nie, hulle deel.

Hulle share minister Zuma, hulle share.

Nie eers die vrees vir ’n virus gaan hulle keer nie.
Dis mos tradisie om te deel?

Ry ’n Sondag van die Mall af en daar staan agt mense om ’n uitgerolde koerantpapier en eet dat die sop spat.

’n Leser jaag na die kantoor om te kom vertel van die mans wat in die sakekern ’n bottel koeldrank gedeel het. “Is hulle nie bang hulle steek mekaar aan nie?” Nee, hulle doen nie!

Sigarette deel? Gaan kyk hoeveel stompies word opgetel en verder gerook.

Al wat die minister en haar kollegas reggekry het, is om binne twee maande van byna alle Suid-Afrikaners misdadigers te maak.

Iewers is iemand skuldig, of dit nou is om onwettig sigarette te koop of te verkoop, onwettig oor en weer te kuier, in die nag rond te ry, by jou kleinkinders te gaan kuier, of hulle by jou, drank te karwei of te verkoop, of enige van die vele regulasies te oortree.

Sommige is uitgevang, soos die vrou wat met haar voorraad sigarette voor die Middelburg Observer se kantoor gestop het en toe sy dit veilig in die bagasiebak wou versteek, stop twee polisiemanne langs haar. Sy is gedreig met ’n R5000 boete of om die verkoper te ontmasker, wat sy gedwee gedoen het.

Moet erken, ek haat rook, maar dissie die punt nie.

Die virus sal eerder beveg word met ’n aggressiewe advertensieveldtog van: “Om te deel, kan jou lewe steel” of “Beware: Don’t share”.
Maar nouja, wie is ek en jy om met so ’n slim minister te stry?

Probleem is net, ouma het meer geworry oor die rook as die gevry en nege maande later kon almal ouma se naïwiteit gade slaan.
Rook sal mense rook, smokkel sal hulle smokkel.

Die beste demonstrasie van “jy-gaan-hulle-nie-stop-nie” was in Aerorand.

’n Gesin was buite in hulle tuin besig om te braai, toe ’n hommeltuig oor die huis vlieg, met ’n halwe bottel brandewyn onderaan. ’n Paar oomblikke later was die gezoem terug, sonder die brandewyn – nog ’n aflewering suksesvol.

Ons moet ophou naiëf wees.

Mense sny steeds hare, skelm.

Mense koop steeds sigarette, skelm.

Mense oefen wanneer hulle wil, al was dit skelm.

’n Pasteitjie sal hulle steeds koop, al mag hulle hom eers by die huis gaan warm maak.

Drank sal mense altyd koop, al is dit skelm.

Inperkingsregulasies?
Wat ’n aborsie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button