Nog inwoners toets positief vir Covid-19
Herotel Hi-Tech het bevestig dat ’n kantoordame van die besigheid positief getoets het vir die gevreesde Covid-19 virus.

Die vrou het die virus moontlik by ’n familielid wat positief is, opgedoen.
Volgens mnr. Jannie Venter, bestuurder van Herotel Hi-Tech, is die maatskappy Sondag van die positiewe toetsuitslag in kennis gestel.
Die vrou is reeds in selfisolasie terwyl verdere toetse op haar kollegas se uitslae nog uitstaande is.
Sodra toetsuitslae binne die volgende 48-uur beskikbaar word, sal Herotel Hi-Tech die nodige stappe neem om kliënte persoonlik in kennis te stel, sou inwoners in kontak met enige van die maatskappy se tegnikuste gewees het.
Vir hierdie rede sal die maatskappy tot Woensdag gesluit wees.
Werknemers werk tans almal van die huis af.
Die maatskappy installeer onder meer WiFi en ander tegnologie.
“Die publiek se veiligheid is vir ons baie belangrik en daarom het ons besluit om almal daarvan in te lig, die nodige reëlings word getref om die publiek van diens te wees en die besigheid te laat aangaan soos hy kan,” sê mnr. Venter.
Daar is ook bevestig dat ’n man verlede week positief getoets het vir die virus voor opname in die hospitaal vir ’n operasie.
Hy was by ’n doktersspreekkamer en is voor die operasie in Pretoria positief getoets. Die man is in selfisolasie en dit gaan goed met hom. Geeneen van die dokters by die praktyk of die ander personeel het positief getoets nie.
Verpligte Covid-19 toetse word op alle pasiënte gedoen voor opname in die hospitaal.
Dit bring die plaaslike bevestigde gevalle op ses te staan.
