Stiaan se liedjie gaan jou dors les
"Hoe word 'n mens so dors, as wyn weer water word?" sing die rasperstem van Stiaan Reynierse in sy liedjie "Dors".
www.mobserver.co.za het met hom gesels oor sy nuutste vrystelling. Stiaan sê dat hy nooit in sy wildste drome sou kon dink dat hy ‘n liedjie sou uitreik, te midde van ‘n tyd waar almal in hul huise vasgekluister sit oor ‘n internasionale pandemie nie.
Dors, het met die huidige verbod op drankverkope, veel meer trefkrag as wat Stiaan of ‘n gesoute bemarkingsmaatskappy, ooit op eie stoom sou kon bewerkstellig.
Elke luisteraar word aangemoedig word om sy eie interpretasie van die liedjie se woorde te hê. Vir Stiaan gaan dit oor sy verhouding met God, sy gestoei met die drankduiwel en sy wantroue in sisteme.
“Hierdie song gaan oor sisteme. Niks in die song is laster nie. Ek glo in God, ek glo in Jesus. Ek glo Hy het vir my sondes gesterf. Maar ek glo nie in al die sisteme wat daarmee saamgaan nie,” sê hy.
“Soms praat ek met myself en soms met God. Dis ‘n baie intieme ding.”
Soos die rou emosie wat in sy liedjies deurskemer, praat Stiaan ook oop en eerlik oor sy persoonlike lewe. Hy sê dat die woorde van Dors sy geveg met drankverslawing versinnebeeld.
Die frase ‘as wyn weer water word’ kry nuwe betekenis as hy vertel hoe hy na nege maande op die waterkar, weer afgeval het.
“Ek kon heroïne los. Mense sê as jy heroïne los, kan jy enige iets los. Maar ek kry net nie hierdie drank-ding gewen nie.”
Dors se woorde is die produk van ‘n middag se breinskrum tussen Stiaan en Francis Grobler (‘n merkwaardige digter op eie stoom en sy nie-amptelike muse) onder die skadubome van Rustique Restaurant.
“Ek en Francis wérk net. Ek het gesukkel op skool. Ek is disleksies, so woorde swem soms vir my rond, maar as ek vir Francis vertel hoe ek voel en wat ek wil sê, sit sy dit vir my op papier. Dan raak sy vir my kwaad as ek sê sy moet ‘n woord wat ek nie verstaan nie verander, of as ek vloek. So skaaf ons aan die ding. Op die ou einde wérk ons net,” vertel Stiaan.
Die inperking het ‘n verwoestende effek op kunstenaars. Stiaan sê dat hy hom nooit sou kon indink dat ‘n virus die oorsaak sou wees dat hy nie sy kitaar mag optel, om vir sy daaglikse brood te sing nie.
“Ek leef van die hand na die mond. Ek het gemiddeld drie shows ‘n week gedoen. Dit was hoe ek geld verdien het. Skielik is dit alles net weg en ek verdien nul rand.”
Hy het, soos baie kunstenaars, onlangs ‘n lewendige uitsending op Facebook gedoen, waarin hy sy bankbesonderhede gegee het en gevra het dat mense wat van sy musiek hou ‘n “pennie of pond in my kitaarkas” sal gooi. Met die geld wat hy gemaak het kon hy ‘n paar gate toestop, soos om sy kinders se skoolfonds vir ‘n paar maande vooruit te betaal.
Hy weet van kunstenaars wat gewoonlik R300 000 per maand verdien, wat nou skielik sonder inkomste sit.
“Die lockdown het ons hele bestaanswyse van ons weggevat,” sê hy.
Ten spyte van die huidige uitdagings, is dit steeds skouer aan die wiel met Dors se musiekvideo wat op Vrydag 22 Mei vrygestel is. Die inperking het die skiet van die oorspronklike beplande video onmoontlik gemaak. Daar is toe besluit om een te maak uit ‘n samestelling van materiaal wat eintlik vir ‘n beoogde dokumentêr, oor Stiaan terwyl hy opneem in die studio, geskiet is.
Verder af in die pyplyn is nog ‘n liedjie, Draadkar, harder rock musiek wat harder vrae vra, wat later vrygestel gaan word.
“Vir die eerste keer in my lewe doen ek presies wat ek nog altyd wou doen. Ek is gelukkig omdat die manne wat my ondersteun, my vrye teuels gee. Ek is gelukkig om ervare mense, groot manne, aan my kant te hê. Soos met Dors, wat gaan oor ‘n fisiese sensasie maar ook oor iets metafories waarna jy smag. Dit laat mens bietjie verder dink.
“As ek nog een keer moet hoor ‘gooi jou suiker op my’ gaan ek ontplof. Daar is net mooi niks om oor te dink in sulke songs nie.”
Hy weet sy uitgesprokenheid oor sy lewe, oor sisteme en oor die plaaslike popmusiekmark, gaan dalk veroorsaak dat hy ‘n paar aanhangers verloor.
“Maar hopelik kry ek ‘n paar nuwes by, mense wat hou van dink.”