Gesin ‘verloor alles’ in huisbrand
'n Gesin van Meyerstraat het Vrydagnag met net die klere aan hul lywe uit hul brandende huis ontsnap.
‘n Steeds geskokte vrou het Saterdagoggend aan www.mobserver.co.za vertel dat sy en haar dogter besig was om maskers te maak toe die krag uitskop. Haar man het die krag gaan aansit maar dit het ‘n ruk later weer uitgeskop.
Toe haar man na die hoofskakelaar in die gang is het hy ‘n gloed in die slaapkamer onder die deur gesien en alarm gemaak.
Bure van die kompleks langsaan het probeer om die vuur met ‘n waterkraan te blus terwyl hulle gewag het vir die brandweer om op te daag. Die vuur het nie na ‘n aangeboude woonstel, waar die egpaar se ma bly, versprei nie.
Intussen het die Middelburg gemeenskap opgeruk om die gesin by te staan met skenkings.
“Hier was so baie mense, mense wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie!”
Die vrou het vertel dat hulle ondersteuning van die NG Suid kerk, waar hulle lede is, ontvang. Hulle bly tot die einde van die naweek in ‘n gastehuis oorkant die straat.
