Wie het Igna Nortjé vermoor?
Op ’n sementtafel in ’n boskamp met die mooiste uitsig in die Nasionale Krugerwildtuin, is daar ’n plaatjie met die woorde: “Enjoy my View” en Igna Nortjé se geboorte- en doodsdatum.
Igna, Middelburg se geliefde oudioloog, is op 30 Mei 2012 vermoor.
Sy is vanaf haar huis in Dennesig ontvoer, later in ’n bagasiebak ingedwing en uiteindelik in Verena met ’n mes doodgesteek.
“Die persoon wat haar vermoor het, moet saam met sy gewete, as hy een het, saamleef,” het haar pa, mnr. ST Potgieter, hierdie week gesê.
Dit was bitter swaar dat hulle weens die grendelstaat nie op die herinneringsdag van haar afsterwe, na die boskamp kon gaan nie.
Elke jaar as haar dogter verjaar in Februarie gaan hulle soontoe en dan weer op die dag wat hulle haar dood herdenk.
Lees ook: Igna se angs in bagasiebak
Die gesin het na haar afsterwe aansoek gedoen by SANParke om die tafel in herinnering aan Igna daar op te sit.
“’n Mens loop met die bospaadjie tot daar en dit is die mooiste uitsig.”
Op sy WhatsApp profielfoto is daar drie foto’s. Een waar jy die uitsig en tafel kan sien, een van die plaatjie met ’n paar blommetjies op die tafel en dan ’n foto van die besonderde beeldhouwerk, in Switserland wat “Emptiness” genoem word.
Die wêreldbekende beeldhouer, Albert György, het dit gemaak na sy eerste vrou gesterf het.
“Daardie beeld is presies hoe ons as ouers voel. Daardie verskriklike gat in jou hart as jou kind gesterf het.”

•Op die dag van Igna se dood in 2012 het haar moordenaar probeer geld trek in Middelburg, later in Stoffberg en hy is later gesien deur ’n petroljoggie en ’n boer van Groblersdal. Die twee het gehoor hoe iemand in die kattebak skop, maar hy het weggejaag toe hulle hom konfronteer.
•Haar moord bly steeds vir talle ’n raaisel. Daar word gevra waarom die moordenaar eers met haar in haar eie kar rondgery het, waarom daar niks uit haar huis gesteel is nie en sy uiteindelik net doodgesteek is.
•Na haar moord het mnr. Potgieter ’n R100 000 beloning aangebied vir enige inligting wat sou lei tot ’n arrestasie.
Hy sê daar het net een vrou na vore gekom met vae inligting, maar daar het ook niks van gekom nie.
•Afgetrede kol. Anton Crafford, het tydens ’n vorige onderhoud gesê dat “die hele kar opged…nner is deur polisiemanne, omdat hulle self haar voertuig van die moordtoneel af weggery het.”
Die forensiese span het haar kosblik met eetgoed in die kattebak gekry, waar haar aanvaller haar ingeboender het.
Me. Nortjé is dieselfde aand dood in ’n sloot in Verena gekry. Sy is verskeie kere met ’n mes in die keel gesteek. Haar voertuig het net ’n klein entjie verder gestaan.
Daar is oral in haar voertuig vingerafdrukke gekry, maar die meeste daarvan was van die polisiemanne. Kol. Crafford was so kwaad dat hy ’n brief aan die provinsie geskryf het dat die polisielede aangespreek word. Maar daar het niks van gekom nie.
Daar is ook ander vingerafdrukke gekry, maar het destyds “negatief” teruggekom. Dit beteken die vingerafdrukke was óf van polisielede óf van ’n persoon wat nog nooit gearresteer is en wie se besonderhede nie op die stelsel is nie.
Lees ook: Ondersoek lewer niks op
Hy was egter seker dat die motief van haar moord nie roof was nie. Buiten die gaspistool, wat die moordenaar langs haar lyk neergegooi het, is daar niks anders gesteel nie en selfs die kar se radio was nog daar.
•In 2016 is nuwe inligting bekend gemaak dat die moordenaar donker akneevlekke op sy gesig gehad het. Sy foto is weer, soos elke jaar daarna, gepubliseer.
Kol. Faan Steenkamp (destydse bevelvoerder van die Middelburg Valke) het daardie jaar ook gemeld dat ses mense sedert haar dood ondervra is, maar nie met die moord verbind kon word nie.
Volgens die dossier was die moordenaar slank gebou, sowat 1.65m lank, het prominente wangbene en het donker akneemerke op sy wange.
•Die eerste verdagte was Andries Tjetla. Me. Nortjé se selfoon is by hom gevind en sy verweer was dat hy die foon opgetel het.
Tjetla en die ander vyf verdagtes se DNA, vingerafdrukke en alibi’s is opgevolg en kon hulle nie met haar moord verbind word nie.
Al die prostitute op die ou Belfastpad is kort na die moord ondervra, maar hulle kon nie bruikbare inligting van die moordenaar by hulle kry nie.
In die dossier is daar ook ’n aantekening rakende ’n vrou wat in 2015 na vore gekom het en ‘n verdagte uitgewys het. Hy was egter een van die ses wie laat gaan moes word, omdat hy nie verbind kon word met die moord nie.
•Die moordenaar is deur die ooggetuies beskryf as tussen 30-40 jaar oud, met kort hare en hy het Phedi gepraat.
