Hengelaars witwarm oor dam se beperkings
Wanneer word daar die meeste gehengel? Saterdae en Sondae!
Wanneer is die Middelburgdam oop vir hengel? Maandae tot Vrydae!
DA leier, Morgan Bruiners het hierdie week sy misnoeë te kenne gegee, nadat die Steve Tshwete Munisipaliteit ’n skrywe uitgegee het dat die dam net vanaf Maandae tot Vrydae vanaf 09:00-17:00 oop sal wees.
“Al die ander damme is naweke oop, hoekom is net die Middelburgdam toe oor naweke? Dis nutteloos! Mense werk van Maandag tot Vrydag en nou mag hulle nie eers by die dam gaan visvang as hulle af is nie,” het hy uitgevaar.
Hengelaar Nantes du Plessis is smoorkwaad en is een van die hengelaars wat sê dat die munisipaliteit net besig is met ’n “magspel”.
“Ek sit met die staatskoerant voor my wat aandui dat ’n mens al van 5 Junie al vir ontspanning mag visvang. Daar is géén beperkings op watter dae daar vis gevang mag word nie! Is ons munisipaliteit dan verhewe bo hierdie bepalings? Al die damme soos Loskop en Witbank, asook oorde met riviere is oop vir hengel oor naweke ook, maar net by Middelburgdam mag jy nie visvang nie. En daar word nie vir ons redes gegee waarom nie.”
Rdl. Johann Dyason is net so oorval met navrae van henglaars wat wil hê hy moet vir hulle antwoorde by die munisipaliteit gaan soek.
Rdl. Dyason is self ’n ywerige hengelaar en sien ook nie die nut daarin om die dam net weeksdae oop te hou vir hengel nie.
“Vissermanne hou nog al die jare sosiale afstand! Jy sal nooit twee hengelaars direk langs mekaar sien visvang nie, want dan sal hulle oor mekaar se lyne gooi! Ek verstaan dat mense nie mag kamp nie, maar dis belaglik dat hulle nie oor naweke mag visvang nie.”
Hy het aangedui dat hy self munisipaliteit toe gaan ry om antwoorde te soek.
•By navraag aan munisipale woordvoerder, Prudence Magutle, is bevestig dat die dam net weeksdae sal oop wees.
Sy het via WhatsApp ’n boodskap gestuur waarin gesê word dat alle Covid-19 regulasies by die dam toegepas sal word en dat mense by die reëls moet hou. Geen oop vure, alkohol of groepe sal toegelaat word nie.
Niemand sal sonder ’n masker by die hek toegelaat word nie en al die basiese Covid-19 toetse (temperatuur, vraelys) sal gedoen word, alvorens hulle kan deurry.
