News

Vermoor vir ’n televisie

“Jy moet mooi kyk na my dogter!”

Dit was Retha Ligthelm se eerste werksdag as joernalis. Sy het tussen haar ma en pa op ’n rusbank in my kantoor gesit.

Daar was kommer oor ’n plaasdogter wat die harde-wrede-wêreld van joernalistiek moes aandurf.

Ek moes plegtig onderneem om die nuwe joernalis die vreemde in te lei.

So was daar vele jong joernaliste oor die jare, elkeen met ’n eie unieke eerstedag.

Wilhelm de Swardt wat oor sy voete geval en die skinkbord laat omkantel het.

Buks Viljoen wat strak en gedetermineerd in sy netjiese pak gesit het, asof hy op pad was na ’n kerkdiens.

Lizel Steenkamp, vol selfvertroue.

Daleen Naude, wie se aanstaande skoonma haar by die kantoor aangebring het.

Johann Gresse, sy ma was baie bekommerd dat hy moes stories skryf en al die ander werk in die drukkery ook moes doen.

Jana Boshoff, wat aanhoudend rondgeskuif en aangebied het om haar eie diesel te betaal, as sy die werk sou kry.

Annalet Steenkamp, Ingrid Erlank, Linda Heyns, Lynn Wilton, Louis Oelofse…Die lys is lank, die tye kosbaar, die bande wat net met joernalistiek so sterk gesmee kan word, na jare steeds net so sterk…

Drie jaar gelede kom laai Tiisetso Malunga se ma, Yvonne, haar af by die kantoor.

’n Pretoriase meisie wat aan die Tshwane Universiteit studeer het, wat nou op die platteland én ’n vreemde dorp, haar merk as joernalis moes maak.

’n Ma en dogter wat die lewenspad saam gestap het. Ma Yvonne wat by Builders Warehouse as kassiere begin en deur harde werk gevorder het tot verkoopskoördineerder.

Ek kon in Yvonne se oë die onsekerheid sien of hierdie enigste dogter dit gaan oorleef op Middelburg.

Het vir die bekommerde ma stil-stil terugvoer gegee oor die jong joernalis se vordering.

Sy het altyd eerste gevra: “Wat is fout”.

Wanneer ek sê sy het goeie werk as ma gedoen, sy kan trots wees op haar dogter, was daar ’n hoorbare sug van verligting en vreugde in haar stem.

In 2019 word Tiisetso aangewys as opkomende joernalis van die jaar. Yvonne (47) se hart swel van trots.

Verlede week was sekerlik een van haar grootste oomblikke. Sy word op 5 Junie die trotse ouma van ’n dogtertjie, Tiisetso se eerste kind.

Op 8 Junie word sy in haar Soshanguve huis deur inbrekers doodgeskiet.

Doodgeskiet vir haar plasma televisiestel…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button