Boere, brandweer stuit vuur naby Kranspoort
'n Brand, wat vermoedelik aangesteek is, het Sondag op 'n wildsplaas naby Kranspoort gewoed.
Volgens die brandvereniginghoof, Helgard Muller, was daar talle boere, asook Kranspoortdorp se brandspan en die Steve Tshwete Munisipaliteit se brandweer op die plaas Polfontein om die brand te beveg.
Die plaas is op die N11 geleë net voor die Kranspoortpas aan Middelburg se kant,
Alhoewel dit nie duidelik is presies waar die vuur begin het nie, het die eerste persone wat die vuur aangemeld het gesê dit het op twee plekke, diep in die veld ontstaan. Dit is waarom daar vermoed is dat dit aangesteek is.
Die vuur is aangeblaas deur sterk wind maar brandspanne kon nietemin daarin slaag om ‘n gedeelte van die weiding vir die wild te red. Sondagaand het daar nog ‘n gedeelte afgebrand.
Mnr. Muller sê dat tussen 300 en 350 hektaar in die slag gebly het maar dat daar genadiglik nog genoeg weiding is vir die wild om hulle deur die winter te dra.
Hy bedank die gemeenskap en die brandweer vir hulle hulp.
