Nette kan land se visbevolking vernietig
Beeldmateriaal van ’n hengelaar wat ’n kiefnet in die Flag Boshielodam (Arabiedam) gevind en uitgetrek het, het hierdie week opslae op sosiale media gemaak.
Die beeldmateriaal is eers deur mnr. Craig Coetzer gedeel op die Facebook-groep “Arabie’s dam fishing and photo’s” en daarna is dit weer gedeel op die Facebook-groep “Vriende van ons Bloukurpers/Friends of our Blue kurper”.
Die beeldmateriaal is tussen die twee groepe meer as 37 keer gedeel, het 31 persone gehad wat kommentaar gelewer het en is daar 25 reaksies op die beeldmateriaal gelaat.
In die beeldmateriaal kan gesien word hoe ’n hengelaar die kiefnet uit die dam begin trek. Daar was meters en meters net, met talle visse wat in die net verstrengel is.
Dit was ongeveer 400 meter se net wat hy besig was om uit die dam te trek.
Die gebruik van alle nette, behalwe ’n skepnet, in damme is onwettig.
“Kiefnette is baie vernietigend en alles wat daarin verstrengel raak vrek,” sê mnr. André Hoffman (rivierekoloog van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap se Akwatiese Bewaringseenheid).
“Die visse wat in ’n kiefnet beland, moet losgesny word, soos die net uitgehaal word, om hul ’n kans te gee om te oorleef. Indien die net eers uitgehaal word en die visse dan uit die net bevry word, sal daar baie van die visse vrek, indien nie dalk almal nie.”
Hy sê dit help ook nie net om die nette te verwyder nie.
“Die mense wat die nette stel, moet gevang word en dìt is ’n moeilike proses, maar dit kan gedoen word. Ek het dit al by Flag Boshielodam gedoen. Jy bel Limpopo Natuurbewaring en wag by die net tot hul daar aankom. Ongelukkig neem dit ongeveer vier tot vyf ure as jy wel die betrokke persoon in die hande kry,” sê mnr. Hoffman.
Die onwettige vang van visse met ’n net is ’n probleem regoor die land, nie net in damme nie, maar ook in riviere.
“Hierdie is selfs ’n probleem in boere in die omgewing se damme. ’n Boer, mnr. Koos van der Lith, tussen Groblersdal en Marble Hall, het ’n net in sy plaasdam gevind, waarin daar reeds verskeie visse verstrengel was en gevrek het. Die saak is by die Marble Hall polisiestasie gerapporteer, maar is nooit ondersoek nie,” sê mnr. Hoffman.
Hy vertel verder dat daar selfs watervoëls, waterskilpaaie, krokodille en otters is wat ook in hierdie nette verstrengel raak en vrek.
’n Waterskilpad het verdrink omdat hy verstrengel geraak het in nette in Klipvoordam en ’n krokodil het in net vasgesit in die Rust de Winterdam.
Daar is tans nie ’n groot probleem by Loskopdam met die onwettige vang van visse met nette nie, aangesien daar goeie beheer by die dam is.
“Daar is wel ’n groot probleem by Mkhombodam. Daar is feitlik geen vis daar oor nie. Nou word Flag Boshielodam geteiken en word byna daagliks genet.”
Die enigste uitweg om hierdie vernietigende probleem te probeer oplos is om so gereeld moontlik die nette uit die damme of riviere te trek en die persone wat dit gestel het te vang.
“Dit is ’n jammerte dat die bewaringsowerhede niks doen om hierdie stropery te stop nie. Wat nog erger is, is dat hierdie bedryf een van die dae wettig gaan wees.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gaan nou begin om permitte uit te reik, sodat hierdie aktiwiteit wettig kan wees. Die algemene publiek en ook die hengelaars, het nie ’n woord gerep toe die gesprek by vergaderings in verskillende dorpe gehou is nie. Daar is onder andere ’n reeks vergaderings in Marble Hall, eMalahleni en Ermelo gehou.
Die konsep beleidsdokument is tans by die ministers en as dit daar goedgekeur word, sal dit in die Staatskoerant gepubliseer word vir die die publiek se kommentaar, daarna word dit wet,” sê mnr. Hoffman.
Persone word aangemoedig om mnr. Hoffman te kontak by 082 412 5756 indien daar nette in ’n dam of rivier opgemerk word of as mense wat vis langs die pad verkoop gesien word.
https://www.facebook.com/craig.coetzer.7/videos/10222521621571039/