Die stink, die stank en die riool in rivier
So op die oog af, blyk dit of Middelburg se are wat lewe na ons landbousektor pomp, vloei van die melk en heuning.
Spierwit waters, en heuning van die soort wat deur “honeysuckers” opgesuig moet word. Raadslede is nou al raadop na ’n jarelange stryd met die munisipaliteit, oor die riool wat daagliks ons spruite en riviere besoedel. ’n Inwoner, mnr. Flippie de Bruyn, het by die www.mobserver.co.za kantore kom aanklop, na ’n ongeurige hengelekspedisie langs die Klein Olifantsrivier. Mnr. De Bruyn vertel dat die wit aanpaksels teen klippe en riete opbou, dat die visse vrek, en selfs die voëltjies stadig die area verlaat. DA raadslid, mnr. Jos Pretorius, het die besoedeling talle kere ondersoek en aan die Departement van Waterwese gerapporteer. Die oorsprong van die besoedeling is ’n reeks mangate wat gekoppel is aan ’n rioollyn in die industriële gebied, wat verstop raak en riool in die spruite opstoot. Die Vaalbank spruitjie raak deel van die Klein Olifants, wat op sy beurt in die Loskopdam inloop. Volgens rdl. Pretorius, is daar ’n plaaslike maatskapy in die industriële gebied, wat uitvloeisel in die rioollyn stort. Die maatskapy is talle kere uitgewys aan die munisipaliteit, wat tot dusver geen antwoord op navrae gelewer het nie.
