Wieldiewe was Woensdagaand bedrywig in Kanonkop.
’n Man in Lobeliastraat, wat nie sy naam genoem wou hê nie, sê dat hy Donderdagoggend om 06:00 op pad was na ’n plaas toe, net om uit te vind sy bakkie staan op stene.
Diewe het die elektriese hek van die spoor af getel en ’n gedeelte van die plaveisel opgelig om stene te kry om die bakkie op te laat staan. Die diefstal het vermoedelik tussen 01:00 en 02:00 gebeur.
Die beraamde skade van die wiele is R35 000. Daar is reeds ’n saak by die polisie geopen.

Die Middelburg polisie kon nie dadelik kommentaar lewer of daar nog voorvalle was nie, omdat dit te vroeg was om al die geregistreerde sake te vergelyk.
Daar was ook ’n inwoner wat aangemeld het dat daar gif in Njalastraat gestrooi is deur die nag, iemand het dit vermoedelik opgetel voor www.mobserver.co.za op die toneel kon kom.
Die diefstal van wiele is ’n tendens wat al hoe meer toeneem. Volgens inligting van ’n bron is dit veral die laaste twee maande ’n groot probleem in Middelburg.
