News

Vrou vlug voor aanvallers op N4

Rooftogte op die N4, tussen die Hendrina afrit en Van Dijskdrift afrit, het skerp toegeneem die laaste twee weke.

Rowers sit laatnag groot klippe of skerp voorwerpe oor die hoofweg wat motoriste se bande beskadig en hulle tot stilstand dwing. Hulle word dan oorval en beroof.

Daar was laas week sprake van twee kapings wat op soortgelyke manier uitgevoer is, een vrou wat deur drie mans oorval is en verskeie voertuie wat beskadig is.

’n Vrou het ’n aanval deur drie mans vrygespring, nadat haar motor se band beskadig is en sy langs die pad om hulp gewag het. Die vrou sê dat sy op haar selfoon besig was om vir iemand te verduidelik waar sy staan, toe drie mans haar motorvensters met skerp voorwerpe stukkend geslaan het. Een van die mans het gesê dat hulle nie net waardevolle items soek nie maar dat sy saam met hulle moet kom.

Die vrou het probeer weghardloop met haar aanvallers warm op haar spoor. ’n Man het haar op ’n stadium aan haar baadjie beet gekry, maar sy kon hom met haar karsleutels steek en haar baadjie uittrek om verder te vlug.

’n Verbygaande polisievoertuig het uiteindelik tot haar redding gekom. Die mans het die donker in verdwyn.

Solange Soares, TRAC woordvoerder, het gesê dat hulle die N4 patrolleer maar nie altyd oral kan wees nie.

Sy het motoriste wat verdagte optrede of voorwerpe op die teervlak sien gevra om dit aan te meld deur TRAC se gratis hulplyn, TRAC Assist te bel by 0800 87 22 64.

Motoriste kan die nommer ook skakel as hulle onveilig voel sodat TRAC die naaste owerhede in kennis kan stel.

• Bronne by insleepdienste en ambulansdienste sê dat selfs hulle versigtig is na 22:00 snags na die N4 uitgeroep te word.

Back to top button