Drie weer in hof na kitsbank ontploffings en wilde jaagtog
Die drie vermeende rowers wat vasgetrek is na kitsbanke opgeblaas en ’n wilde jaagtog en skietery met die polisie gevolg het, is vandag weer in die hof.
Daniel Surprise Phala (45), Gape Mmele (22) en Lesego Lesego (22) verskyn in die Nebo Landdroshof op klagtes van gewapende roof, kwaadwillige saakbeskadiging en die onwettige besit van plofstof en ’n vuurwapen.
Tydens hul vorige verskyning is borg van R2 000 aan elkeen toegestaan. Die drie se verskyning spruit voort uit die voorval op 16 Augustus waartydens lede van die polisie se taktiese- en Valke-eenhede rowers vanaf Jane Furse gejaag het. Vyf kitsbanke is in dié dorp opgeblaas.

Die Middelburg Polisie het naby Kanonkop op die Stoffbergpad by die jaagtog aangesluit om die voortvlugtende Fortuner te probeer stop.
Die rowers het in Middelburg beheer verloor oor die voertuig waarin hulle gery het en in die proses deur ’n buitemuur van ‘n besigheid gebars en teen die gebou tot stilstand gekom.
Twee van die verdagtes het oor ’n muur gespring, maar is raakgeskiet en het in ’n erf gaan lê. Die derde verdagte is in ’n ou voertuig, waarin hy weggekruip het, gevind.
• Een van die verdagtes, wat in die rug gewond is, was aanvanklik onder polisiebewaking in die Witbank Hospitaal, maar is later ontslaan en was saam met die ander twee in die hof tydens hul vorige verskyning.
