Dief kruip deur klein venstertjie
’n Dief het ’n besigheid in Weeberstraat se klein venstertjie gebreek, deurgeklouter en duisende rande se gereedskap gesteel.
Hy was juis besig om heen en weer te hardloop om sy buit agter ’n muurtjie weg te steek, toe Mid Alarms ondersoekbeampte, Shane van Rooyen, hom op heterdaad betrap.
Mnr. Van Rooyen (senior van die spesiale operasionele eenheid) was Vrydagoggend besig om patrollie te ry, toe hy omstreeks 05:00 die man oor die pad sien hardloop vanaf Auto Doc Paneelkloppers se rigting. In sy hande was ’n verlengkabel en hy het dit agter ’n muurtjie oorkant die pad gegooi.
Mnr. Van Rooyen het hom ’n rukkie dopgehou en gesien hoe hy terugklim in die besigheid in en nog gereedskap deur die venster gooi. Kort hierna het hy hom gearresteer.

Die venstertjie wat hy gebreek het, is piepklein, maar hy het homself elke keer daardeur gewurm. Die waarde van die artikels wat hy gesteel het, waaronder elektriese kraggereedskap en ander gereedskap, word op sowat R20 000 geraam.
Volgens mnr. Van Rooyen is dit die tweede keer hierdie jaar dat hy die verdagte vasgetrek het.
• Vusi Mtsweni (30) het vandag in die hof verskyn op ’n inbraakklagte.
