Vrou dalk betrokke by moord
’n Vrou maak vermoedelik deel uit van die rowerbende wat verlede Vrydag ’n vakansieganger in Tonteldoos vermoor het.
Len Pretorius is in die gesig geskiet deur ’n bende van drie rowers. Mnr. Pretorius en sy vrou, Joey, het vir die naweek op ’n gasteplaas, Bushboys, in Tonteldoos gekuier.
Die egpaar was pas terug in hul rondawel van aandete af, toe daar ’n gehammer aan die venster was. Mnr. Pretorius het die gordyn weggetrek en die drie rowers gesien staan.
’n Skoot het kort daarna afgegaan wat hom in die gesig getref het. Hy het op die toneel doodgebloei.
Lees ook: Man vermoor op gasteplaas naby Tonteldoos
Die rowers is blitsvinnig die rondawel binne, het mev. Pretorius oor die kop geslaan en gevra vir haar geld en vuurwapen.
Die voorval word nou moontlik verbind met ’n inbraak by ’n ander gasteplaas in Tonteldoos, wat die aand voor die moord plaasgevind het. Persone wat die verdagtes se spore gevolg het, het opgemerk dat een van hulle moontlik ’n vrou kan wees weens die grootte van die spoor.
Met Vrydag se moord was die beskrywing dat daar ’n “vetterige man met ’n bles”, een met ’n strepieshemp en een met ’n kappie was. ’n Verdagte voertuig wat later opgemerk is, het drie insittendes met dieselfde beskrywing gehad, behalwe dat die persoon met die strepies hemp, ’n vrou was.
Lees ook: Naweek se moord nie die eerste op Tonteldoos
Saterdagaand na die moord, was daar weer ’n voorval wat met die drie verdagtes verbind word. Plaaswerkers op ’n plaas naby Roossenekal is beroof en van die slagoffers moes met ’n ambulans hospitaal toe gejaag word met messteek wonde.
Met die voorval is daar ook melding gemaak van drie verdagtes en die vrou in die strepieshemp.
Oud speurder Sakkie Louwrens se hulp is ingeroep in ’n poging om die skuldiges van die moord op Tonteldoos, aan die pen te laat ry.
Louwrens is geen vreemdeling in Tonteldoos nie, hy het ook in 2014 die moord op Sarel Janse van Rensburg ondersoek wat uiteindelik tot die skuldigbevinding van twee mans gelei het.
