Plaaslike sanger beïndruk feesgangers
Reghard van Zyl het Sondag blitsig ingestaan toe ’n ander sanger weens dood in sy familie nie meer by die Oppie-Stasiefees by die Middelburg Stasie kon optree nie.
Reghard het vinnig saam met sy agentma, Alida Potgieter, vanaf Arnot na Middelburg gejaag om almal op die stasie te kom vermaak.
Hy is egter nie ’n nuutjie in die bedryf nie en het die mense só beïndruk met sy vertoning dat hy sommer klaar weer vir ’n paar geleenthede bespreek is.
Feesorganiseerder, Johan Janse van Rensburg, vertel dat sanger Ruan Nel wel in Middelburg was om op te tree, maar kort voor sy optrede het hy gehoor sy ouma is oorlede.
Johan het vir hom gesê dat hy verstaan en dat dit belangrik is dat hy sy familie moet ondersteun. Hy het vir Reghard gebel, wat dadelik ingestem het om die feesgangers te kom vermaak.
“Reghard was uitstekend en van die motorfietsryers het hom genooi om by hul volgende twee byeenkomste op te tree.”
Reghard het hierdie week vir www.mobserver.co.za gesê dat dit vir hom lekker was om by die fees te sing en te kom kuier. Hy sing al vir meer as 10 jaar en is ’n bekende gesig in Rustenburg, Harties (Hartbeespoortdam) en selfs in die Kaap waar hy by feeste en ander geleenthede optree.
Alida meld dat hy juis weer drie optredes het binne die volgende paar weke.
Reghard sing enigiets, Afrikaanse en Engelse treffers, Country en selfs “Oldies”.
•Persone wat Reghard wil bespreek vir funksies, kan Alida of Reghard bel by 082 658 8676 of 072 272 1211. https://youtu.be/GylepfwgR7s
