Stapper steeds in Drakensberge gesoek
Johann van Coller, die stapper wat in die Drakensberge gaan stap en verdwyn het, is steeds weg.
Sy ma, Madelein de Villiers, sê hulle hanteer duisende oproepe, maar dat hy nog nie gevind is nie.
Reddingspanne het gister na hom begin soek, nadat hy nie by die eindpunt aangekom het nie. Hy is die laaste keer op 18 Oktober by Witsieshoek gesien en moes al twee dae terug by die eindpunt gewees het.
Lees ook: Reddingspanne begin na stapper in Drakensberge soek
Me. De Villiers is dankbaar vir elke persoon wat probeer help.
Sy het n oproep van ’n ene “Lucky” gekry, wat haar laat weet het dat hy en sewe vriende vanoggend om 07:30 wegspring om na Johann te soek. Lucky en sy vriende is geoefende stappers wat hul hulp aangebied het om saam met die reddingspanne te help soek.
Daar is egter ook ander oproepe wat op niks uitloop nie, soos mense wat hom kwansuis in Gordonsbaai gesien het.
Enige persoon wat kan help met inligting of dalk op die staproete vir Johann teëgekom het, word gevra om me. De Villiers te bel by 072 074 5394.
