Laurie Smith maak groot lawaai by Rooies se Groot Raas
Daar was Donderdagaand weer ’n groot lawaai in die dorp, maar die geraas was baie welkom na twee jaar se stilte by Hoër Tegnies Middelburg waar die Groot Raas die week na afsonderingsopheffing hervat is.

Daar was lanklaas soveel toeskouers op HTS se veld vir dié jaarlikse instelling van die geesvangaand.
Vanjaar het span Laurie Smith met die louere as die grootste raasbekke weg gestap. Douw Smit se luidrugtiges was tweede, met Buks Pretorius aan die agterspeen.
Die Rooies het weereens gewys waarom hulle een van die land se topskole is. Daar was skaars plek vir ’n mier op die A-veld waar Rooies ondersteuners en oud skoliere saamgedrom het om die tradisie te hervat.
Laurie Smith se span het die wenplek verdien, en die harte vermurwe, toe die dirigentespan verlede jaar se dirigente opgeroep het vir die eer om die eerste kreet te lei, nadat Covid-19 regulasies hulle van 2021 se Groot Raas ontneem het.
