Meisie sterf in Kranspoort – ondersoek na drie jaar afgehandel
Die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat het die ondersoek afgehandel teen die voormalige polisiekaptein, Awie Geldenhuys, nadat sy vriendin, Maryka Kleinhans, in Kranspoort gesterf het.
Opod se mediaverteenwoordiger, Grace Langa, het pas bevestig dat die ondersoek afgehandel is.
“Terwyl ons praat, is die dossier by die provinsiale hoof van Opod vir voltooiing op die saakbestuurstelsel en sal hierdie week na die Departement van Openbare Vervolging geneem word vir beslissing. Die familie is reeds op hoogte van sake gebring.”
Maryka het op 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf, nadat sy saam met Geldenhuys in sy voertuig was. Haar familie was omgekrap, omdat hy hulle nooit die aand van die voorval laat weet het nie en hulle eers die volgende dag van haar dood verneem het, toe iemand hulle per Facebook gekontak het.
Haar pa, Johan Bezuidenhout, het tot die dag van sy afsterwe in September verlede jaar, geveg vir geregtigheid vir sy dogter.
Hy en sy vrou, Petro, het destyds vir www.mobserver.co.za gesê dat hulle nie hul dogter se verhouding met kapt. Geldenhuys goedgekeur het nie.
Die dag van haar dood is sy saam met Geldenhuys na Loskopdam.

Daar is aanvanklik vir die familie gesê dat sy die aand met hul terugkeer uit die voertuig gespring het. Later is gesê dat sy uitgeval het. Sy het in die poort gesterf.
Opod het die ondersoek oorgeneem en daar is lank vir DNA gewag.
•Na Maryka se dood is daar ’n Facebookblad met die naam: “Justice for Maryka” begin, waar daar weekliks boodskappe geplaas word oor die gebeure en om mense te herinner wat gebeur het.
Haar ouers het voorheen gesê dat Geldenhuys “aangaan met sy lewe asof daar niks gebeur het nie. As hy by ons verby ry, dan sien ons hoe lag en gesels hy met die vrou of persoon langs hom.”
•Die Middelburg Observer en www.mobserver.co.za het talle berigte die afgelope 20 jaar gedoen van vroue wat bewerings, meeste seksueel van aard, teen hom gemaak het.
•Na Maryka se dood het die familie ’n kruis in Kranspoort opgesit, in die omgewing waar sy gesterf het. Elke jaar met haar verjaardag en die dag van haar dood, kom hulle daar byeen, doen ’n gebed en sit blomme en boodskappe op harte by die kruis op.
•Carte Blanche het ook ’n uitsending gehad waar daar met onder andere familie, ’n vrou en ’n joernalis van www.mobserver.co.za onderhoude gedoen is rakende die gerugte.
•’n Nasionale webblad het verlede week gesê dat die familie verneem het dat Geldenhuys ’n arbitrasiesaak gewen het en dat daar gerugte is dat hy weer heraangestel gaan word.
Provinsiale woordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor enige interne ondersoek wat nog nie afgehandel is nie.
