News

Drie ton dooie vis uit rivier verwyder

Foto’s wat op sosiale media sirkuleer, van groot groen kolle in die Loskopdam, hou nie verband met die ekologiese ramp stroomop waar suurwater in die Wilgerivier beland het, en grootskaalse visvrektes veroorsaak het nie.

Sowat 58 km rivier (27 km in die Wilgerivier en 31 km in die Olifantsrivier) is ‘dood’ as gevolg van die suurwaterbesoedeling. Die foto’s van ’n algebloei in die Loskopdam is geneem uit ’n vliegtuig. Daar word nou deur talle mense aangeneem dat die algebloei dui op grootskaalse besoedeling van die dam.


Andre Hoffman, rivier ekoloog by Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap, pleit by inwoners om nie aannames te maak en foto’s te versprei, sonder om agter die kap van die byl te kom nie, omdat dit onnodig paniek saai en ’n wanindruk van die ware stand van sake skep.

Die opbloei van alge is ’n natuurlike verskynsel wat seisoenaal in die dam voorkom. Dit gebeur gewoonlik wanneer dit warm is en daar nie baie hoë vloei water is nie, wat veroorsaak dat die water stadiger vloei en alge opbloeisels makliker sigbaar is, omdat dit gekonsentreer is.
Mnr. Hoffman sê die alge opbloei word veroorsaak deur hoë vlakke nutriente as gevolg van rioolwater, maar dat dit tans geen gevaar vir visse inhou nie, omdat dit in matige gevalle, soos op die foto’s te siene is, voordelig is vir visse as bron van kos.

“Mense moet appels met appels vergelyk. Moenie weghardloop met ’n gerug omdat daar foto’s is wat julle nie verstaan nie,” het mnr. Hoffman gemaan.

Die suurwater in die rivier het genadiglik ook nie die dam bereik nie. Mnr. Hoffman sê dat daar sowat 1,7 km by die inloop van die dam geaffekteer is, maar dat die besoedeling agt kilometer rivierlangs van die bewaringskabel in die dam gestop het. Die kabel is die verste grens tot waar lede van die publiek met hul bote mag vaar.

Om die fiasko met die suurwaterbesoedeling te verlig, is daar water uit die Bronkhorstspruitdam, asook uit die Witbankdam losgelaat, om die hoë konsentrasie suurwater te verdun tot ’n nie-skadelike punt.

Die skade was egter reeds gedoen. Daar is 23 inheemse visspesies wat gevrek het en daar is selfs ’n paling tussen die dooie vis gekry. Natuurbewaring het vroeër die week sowat drie ton dooie vis uit die rivier verwyder om verdere skade wat deur die verotting van visse veroorsaak word, te verhoed.

Een van die visse was ’n reuse geelvis van oor die drie kilogram. Daar is nou verdere toetse op die vis gedoen om te probeer bepaal hoe oud hy is.

Mnr. Hoffman sê dat die vis wat gevrek het nie giftig is nie, omdat die suur hul kieue beskadig en hulle dan nie suurstof uit die water kan haal nie. Die groot probleem is egter as die massas dooie vis begin vrot en dan deur ander waterdiere soos krokodille en likkewane geëet word.

“Ons glo ons het betyds al die dooie vis skoon gemaak. Maar ons sal die rivier monitor,” sê mnr. Hoffman.

Daar sal mid-Maart met die opstel van ’n rehabilitasieplan begin word, wat dan in werking sal tree as riviervlakke laag genoeg gedaal het om dit toe te laat.

Mnr. Hoffman sê dat rehabilitasie van die geaffekteerde gedeelte rivierloop, tussen 15 en 20 jaar gaan neem. Die vermoë van die natuur om te herstel, sal bepaal word deur die effektiwiteit van die Departement van Waterwese, wat druk op die ekosisteem kan verlig, deur te sorg dat munisipaliteite en myne se waterkwaliteit op standaard is.

“Die natuur kan eintlik baie goed en vinnig herstel, ons moet dit net ’n gap gee,” sê mnr. Hoffman.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button