News

Bejaardes met pangas aangeval: “Dit was ’n bloedbad!”

“Dit was ’n bloedbad,” het familielede vanoggend gesê na die soveelste plaasaanval die afgelope twee weke in Suid-Afrika.

Lede van die polisie, waaronder die honde-eenheid, is tans in die buitewyke van Mhluzi opsoek na die aanvallers, nadat betroubare inligting bekom is oor waar hulle is.

“Die ergste is dat die aanvallers mense was wat die afgelope sowat ’n maand op die plaas gewerk het by die houtskoolvervaardiging. Dit is hoekom oom Gert vir hulle die deur oopgemaak het.”

Die 80-jarige me. Susan (Sannie) Luus, ’n welbekende oud-onderwyseres van Laerskool Uitkyk, bly haar lewe lank op ’n gedeelte van die Groot Rietvlei plaas. Haar dogter en skoonseun bly ook daar, maar hulle het Maandag vroeg vertrek Johannesburg toe vir werksverpligtinge.

Me. Luus se broer, Gert Joubert (66), het daar gekuier.

Uit inligting wat aan www.mobserver.co.za verskaf is met onderhoude van die familie en persone wat gehoor het hoe tannie Sannie en oom Gert van die gebeure vertel, het die wrede aanval ontvou.

Lees meer: Aanvallers ‘was vriendelike gesinnetjie met pasgebore baba’

Drie werkers, klaarblyklik Mosambiekers, het kort voor 20:00 na die huis gegaan en gevra vir brandstof vir die kettingsae.
Mnr. Joubert het die deur oopgemaak, waarop hulle hom oorval het.

Die boosdoeners het kontant geëis en toe die verskrikte bejaardes sê hulle het net die paar rand in hul beursies, het hulle wreedaardig op die man en vrou toegesak.

Mnr. Joubert is oor die kop en nek met die panga gekap en me. Luus is met die platkant van die panga geslaan.
Sy is op ’n stadium ook met ’n glasbak oor die kop geslaan.

Die bejaarde oud onderwyseres het haarself dapper losgewoel nadat sy vasgebind is en probeer tussenbeide tree terwyl mnr. Joubert erg aangerand is.
Die wreedaards het haar egter wéér vasgebind en die bloeiende broer en suster na die badkamer gesleep en hulle beveel om daar te bly.

Die aanvallers het weggekom met hul beursies (met sowat R500 kontant daarin), hul selfone, die televisie en kleiner huisware wat hulle in haar grys Opel Corsa gelaai het.

Nadat sy gehoor het die voertuig vertrek, het me. Luus haarself weer losgewoel en na die aangrensende plaas van mnr. Dewaldt Botha, drie kilometer vandaar, gestap.

Gelukkig was dit volmaan en kon sy haar weg in die nag vind.

Die polisie is ontbied en CCTV videomateriaal (plaaspad kameras) het later aangedui dat haar voertuig kort na die aanval verby die Elandslaagte afrit gejaag het Middelburg se kant toe.

•Mnr. Joubert moes steke kry vir kapwonde en me. Luus het erge knoppe en merke op haar lyf van die aanval. Beide word steeds in die Middelburg Hospitaal vir hul beserings behandel.

Die familie is dankbaar vir die manier waarop die hospitaalpersoneel die bejaardes gehelp het en hulle ook op hoogte hou van hul toestand.

•Verskeie lede van die gemeenskapspolisiëringsforum het hul hulp aangebied laasnag om na die skuldiges te soek.

Hulle het ook die pad aan Middelburg se kant toegemaak met die hoop om die rowers vas te trek. Hulle het egter later verneem dat die voertuig reeds verby was teen die tyd wat hulle die pad toegemaak het.

•Familielede wat die toneel vanaf 04:00 skoongemaak het, nadat die polisie se forensiese afdeling die huis deursoek het vir leidrade, het die toneel as “bloedbad” beskryf.

 

 

 

 

Latest news by the Middelburg Observer:

Twee vas na huis stuk-stuk weggedra is

Truck jack-knifes in Kranspoort, two lanes obstructed

Haweloses wat tussen bosse bly moet weg

Back to top button