Honderde spuitnaalde in dwelmhole op dorp
Middelburg het een groot dwelmhool geword met honderde sakkies dwelms, pille en dwelmnaalde wat by onwettige strukture in die dorp gekry is.
Mnr. Arthur Hill (Kanonkop en Dennesig Dagpatrollie) het foto’s gewys van die honderde dwelmnaalde en selfs dwelmpype wat hulle in strukture gekry het wat hulle besoek het.
“By een van die gehuggies het ons buiten dwelms, drie mans en twee vroue sáám in een bed gekry.”
Hy het bekommerd genoem van 13 onwettige seil- en boksstrukture wat net tussen 4SAI en Eastdene langs die rivier opgeskiet het.
“In ál die strukture was daar dwelms en spuitnaalde!” Dit sluit van heroïne tot kristal metamfetamien (bekend as ‘crystal meth’ of Tik) in.

Onder en langs die Verdoornstraatbrug word daar talle dwelmtransaksies gedoen.
Dit is juis daar waar die mans en vroue saam in ’n bed gekry is.
Mnr. Hill sê hulle het in die laaste twee weke ook ’n handelaar met verskillende soorte dwelms in sy besit vasgetrek en aan die polisie oorhandig.
“Oral waar ons by onwettige strukture ingegaan het, hetsy in die middedorp of langs die rivier en treinspore, was daar dwelms!”

Hy het gesê dat hulle graag hande wil vat met alle organisasies en instansies in die stryd teen dwelms.
“Ons sal die dwelmverslaafdes en -handelaars aanhou pla totdat hulle uit ons dorp trek! Dit is ook óns dorp!”
•By die meeste onwettige strukture is daar ook gesteelde artikels, soos koperkabels, gekry. Die gemors rondom die strukture was ook duidelik op die foto’s sigbaar.
•Vir enige navrae rakende die Kanonkop en Dennesig Dagpatrollie bel mnr. Hill by 083 870 9693.


