Papapavlou saak: Tseka en Maftle vlugtig in hof
Die ma en seun wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Raymond Papapavlou (28) te vermoor, het vlugtig in die Groblersdal Landdroshof verskyn.

Papapavlou is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.
Calvin Tseka (31) en Paulinah Mamalope Mafatle (57) is op 25 Augustus 2022 in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om moord te pleeg.
Tseka is Mafatle se biologiese seun.
Die saak is vanoggend uitgestel na 20 Januarie 2023 vir verder ondersoek.
Tseka en Mafatle is verteenwoordig deur mnr. Tabiso Sibanda.

Mnr. Sibanda het gevra dat die saak van die rol geskrap word aangesien die saak aanhoudend uitgestel word, waarop die landdros gesê het dat die saak nog net een keer uitgestel is, vandat die borgaansoek plaasgevind het, daarom sal die saak nie van die rol geskrap word nie.
•Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het tydens Tseka en Mafatle se borgaansoek getuig dat beide van hul telefoonkommunikasie met Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.
•Smith het ’n liefdesverhouding gehad met Simoné, Raymond se vrou. Daar is verlede jaar in die hof getuig tydens Simoné se borgaansoek, dat die verhouding die motief was vir Raymond se moord, aangesien hy in die pad gestaan het van hul verhouding.
•Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.
