Helikopters en bote soek sedert ligdag na Willem
Nood- en ander groepe wat kort na Willem Kruger se verdwyning gesê het dat hy “op pad na Groblersdal verdwyn het,” het ’n aanname daaroor gemaak.
Dit is nou duidelik na wat ondersoekers uitgevind het sedert sy verdwyning.
Die plan was nooit dat Willem daardie nag sou terugry vanaf die Henbase Lodge tussen Morgenzon en Amersfoort nie.
Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) het genoem dat daar ’n kamer bespreek is, wat hy met ’n vriend sou deel.
Hulle sou na die partytjie daar oorslaap en dan die volgende oggend eers terugry Groblersdal toe.
Na die partytjie is die ander jong man na die kamer toe.
Niemand het klaarblyklik ooit gesien of gehoor dat Willem ook sê dat hy gaan terugry nie en niemand het ook gesien dat hy in sy bakkie klim om te ry nie.
Willem het wel na 01:00 sy vriend, wat die kamer met hom sou deel, twee keer probeer bel. Die selfoon se klank was af en hy het nooit die oproep beantwoord nie.
Daarna weet niemand wat van Willem geword het nie.
Omdat die selfoon- en sy bakkie se opsporingstelsel seine die area nooit verlaat het nie (dit is sedertdien af), word daar in die Vaalrivier, wat sterk in vloed in, na hom gesoek.
•Daar is ’n laagwaterbruggie wat toegang bied tot die lodge, wat onder water is weens die Vaalrivier wat in vloed is. Daar is egter ook ’n alternatiewe roete.
•Mnr. Louwrens het vanoggend gesê dat die vlak van die rivier stadig maar seker begin sak.
Hulle het egter teen ligdag weer begin soek en helikopters en bote word in die soektog gebruik.
