Hommeltuie ingespan in soektog na Willem Kruger
Geen moegheid laat die spanne wat sedert Maandag onverpoos na Willem Kruger (29) soek, moed opgee nie en hommeltuie word ook nou ingespan.
Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) wat die soektog lei, sê dit is verblydend om te sien hoe almal saamwerk.
“Buiten die polisiehelikopter, was daar al verskeie privaat helikopters wat ingevlieg het om te soek. Daar is nog die hele tyd helikopters.”
Van die vrywilligers wat kom help het, het selfs hul hommeltuie saamgebring om die hele area te fynkam.
“Die duikers is steeds hier, almal is hier, almal help,” het mnr. Louwrens dankbaar gesê.
Hy sê dat die riviervlak begin sak, maar dit kan nog maklik twee tot drie dae wees, voordat die Vaalrivier nie meer so erg in vloed is nie.
•Daar is steeds geen teken van Willem nie en die beloning vir enige inligting wat sal help om hom te vind, is gister deur sy familie opgestoot van R50 000 na R200 000.
•Enige inligting kan deurgegee word aan mnr. Louwrens by 071 798 7954.