News

Boere langs Vaalrivier kyk uit vir Willem se bakkie

Al die boere wat langs die Vaalrivier bly, is gevra om waaksaam te wees, sou daar dalk enige teken wees dat die verdwene Willem Kruger se bakkie in die rivier is.

Willem is steeds nie gevind nie, maar die ondersoekers volg steeds elke moontlike leidraad op.

Mnr. Phil Vermeulen (spesialis ondersoeker, Mike Bolhuis se span) het vanoggend gesê dat hulle alle leidrade opvolg.

“Ons is in kontak met al die boere langs die Vaalrivier om vir ons uit te kyk. Al die veiligheidskameras op ál die roetes word ook voortdurend na gekyk.”

Willem het in die vroeë oggendure van 13 November vanaf die Henbase Lodge verdwyn, waar hy ’n vriend se rampartytjie bygewoon het.
Daar is eers ’n R50 000 beloning en kort daarna ’n R200 000 beloning aangebied.

Willem Kruger se bakkie.

Buiten helikopters, bote en hommeltuie, is die nuutste tegnologie ingespan om die Vaalrivier te fynkam om te bepaal of hy moontlik die nag met sy bakkie in die rivier beland het.

Daar kom gereeld inligting deur van regoor die land, vanaf die Kaapprovinsie tot in die Laeveld, dat mense Toyota Hilux Dakar bakkies opmerk wat Willem se bakkie se beskrywing pas, maar tot op hede het dit op niks uitgeloop nie.

Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) staan aan die stuur van die ondersoekspan en twee spesialis-ondersoekers van Mike Bolhuis help ook.

Hulle vra steeds dat enige nuwe inligting deurgegee kan word aan mnr. Louwrens by 071 798 7954 of mnr. Vermeulen by 082 604 4598.

 
Back to top button