News

Hoofwegrowers skiet twee keer op polisieman

Binne ’n uur en ’n half het dieselfde hoofwegrowers twéé keer losgebrand op ’n lid van die Middelburg K9 eenheid.

Verskeie waarskuwings is sedert gisteraand op sosiale media uitgereik dat motoriste waaksaam moet wees op die N12 en N4. Daar is ’n skielike toename in voorvalle waar motoriste tot stilstand gedwing en dan beroof word.

’n Betroubare bron het vertel hoe die K9-lid besig was om patrollie te ry kort na 20:00 op die N12 toe die gebeure tussen Delmas en Bapsfontein plaasgevind het.

Hy het in die rigting van Johannesburg op die N12 gery, toe hy in die verbygaan sien dat daar op die oorkantste hoofweg ’n Mahindra karretjie staan, met sy noodligte aan.

Die lid het rem getrap om te kyk wat aangaan, maar op dieselfde oomblik het ’n skoot geklap.

Daar word verneem dat hy dadelik ’n U-draai gemaak het, aangesien daar donker figure om die kar was.

Hy het sy polisiebakkie se ligte op die voertuig geskyn, waarop ’n man oor die middelman met sy hande in die lug aangestap gekom het en geskree het: “ons is geroof…ons is geroof!”

Die slagoffer en sy vrou het gesê dat die rowers gevlug het.

Die man se knie was stukkend nadat die rowers hom gepootjie het om te val, terwyl hulle beroof is.
Daar was klippe oor die pad gepak en die voertuig se wiel het gebars toe hulle daaroor ry.

Die man moes noodgedwonge stop, waarop hulle deur vier gewapende mans, almal heeltemal in swart geklee met handwapens, oorval en van hul selfone en kontant beroof is.

Die polisieman het vanaf die oorkantste hoofweg hulle opgemerk terwyl die rooftog in aanvang was.

Nadat die toneel opgeruim is het die K9-lid by die Blesbokfontein afrit opgery en wou in Kusile se rigting ry, maar daarteen besluit en is weer terug op die N12 in eMalahleni se rigting.

Sowat ’n kilometer vanaf die vorige rooftog het hy weer aan die oorkant van die hoofweg ’n taxi met ’n sleepwa met noodligte aan sien staan.
Hy het stadiger gery en opgemerk dat daar ’n man op sy maag met sy hande op sy kop tussen die taxi en die sleepwa lê.

Die polisieman was nog besig om te rem om ’n U-draai te maak oor die hoofweg, toe die eerste skoot klap.
Een van die rowers het gevuur terwyl hy hardloop en die polisieman  het teruggeskiet.

Die rower het egter tussen mense wat by die taxi gestaan het ingehardloop en die polisielid het opgehou skiet, aangesien hy in die donker nie geweet het of dit rowers of slagoffers was wat daar gestaan het nie.

Hy het sy bakkie gestop en sy wapen in die rigting van die aanvallers gerig. Hy het agter die enjinkap geskuil om seker te maak dat hy buite sig is van die skietende rowers.

Etlike sekondes later het die taxi met ’n spoed weggetrek en het die polisieman moontlik aangeneem dat dit die rowers is wat die voertuig kaap.
Hy het vir hulp ingeroep en die voertuig agterna gesit.

Net na die Bapsfontein afrit, het die taxi egter gestop en het die passasier met sy hande in die lug aangestap gekom.

“We’ve been robbed,” het hy gesê en die drie insittendes, twee mans en ’n vrou, het vertel dat hulle slagoffers was.

Die oomblik toe die skote om hul koppe begin klap en die rowers in alle rigtings hardloop, het hulle besluit om in die taxi te spring en weg te jaag.

•’n Lid van die Delmas polisie het hulp kom verleen na die eerste voorval en ’n lid van die Middelburg K9-eenheid (honde-eenheid) het na die tweede voorval gaan help.

•Niemand is ernstig beseer tydens die voorval nie en nie een van die skote het die polisiebakkie getref nie.

•Die polisieman is gekontak en gepols oor die voorval.

Hy het die voorvalle bevestig, maar wou nie uitbrei nie, omdat hulle nie amptelik met die media mag praat nie.

Hy het egter net gewaarsku dat mense versigtig moet wees as hulle in die aande op die N4 en N12 hoofweë ry en nie moet stop as daar klippe of skerp voorwerpe in die pad is nie. Hy beveel aan dat hulle aanhou ry tot waar dit veilig is, al is die kar beskadig.

•Die hoofwegrowers word al vir jare gevrees.

•Op 20 Maart 2021 is me. Faith Shabangu (’n werknemer van Cloumbus Stainless) dood nadat sy deur ’n voertuig op die N4 getref is naby die Bethal-afrit toe sy vir die hoofwegrowers gevlug het.

Haar voertuig het die skerp voorwerpe getref en een van haar bande was pap.

•Daarna het verskeie voorvalle op die N4 en N12 gevolg waar voertuie beskadig en motoriste beroof is, waaronder ook ’n Blue Ribbon trok waar die insittendes beroof is.

•In ál die gevalle was daar óf skerp voorwerpe óf klippe op die pad wat voertuie of die voertuigbande beskadig het.
Die rowers is altyd te voet en sodra die voertuig stop weens skade, oorval hulle die insittendes en beroof hulle van juwele, selfone en kontant.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button