Giana blaas in eerste toets
Wanneer hierdie skeidsregter die fluitjie hanteer, luister groot voorrye na haar
Die oud-Middelburgse onderwyseres, Giana Viljoen (31), maak op 19 September haar toetsdebuut as rugbyskeidsregter. Sy is aangestel om die WXV Global Reeks-uitdaagwedstryd tussen Hongkong, China en Fidji by die Kai Tak-jeugsportgonde te hanteer.
Groot droom
Haar groot droom bly steeds om eendag as skeidsregter by die Vrouewêreldbeker op te tree.
Nadat sy haar skeidsregtertande in Mpumalanga geslyp het en lank lid was van die Mpumalanga-skeidsregtersvereniging, blaas sy deesdae onder die vaandel van die Blou Bulle.
Giana staan net 1,62 m in haar sokkies, maar wanneer sy eers die fluitjie in die mond het, luister groot voorrye na haar instruksies.
Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool Saamtrek op Klerksdorp begin en aan Hoërskool Wesvalia gematrikuleer.
Voltydse skeidsregter
Nadat sy in Middelburg skoolgehou het, is sy na Pretoria as intern-biokinetikus en voltydse skeidsregter.
Haar eerste wedstryd was tussen HTS Middelburg en Hoërskool Pietersburg se o. 16B-spanne en haar eerste provinsiale wedstryd was by die Dogters o. 16- en o. 18-Cravenweek, toe die Oostelike Provinsie en KwaZulu-Natal se o. 16-spanne slaags was.
Haar eerste internasionale wedstryd was die kragmeting tussen Mexiko en Madagaskar se sewesspanne by die Challenger-toernooi.
Sy het so opgang gemaak sedert haar skeidsregterdae op Middelburg, dat haar naam in 2023 reeds op die nasionale paneel verskyn het.
Persoonlike hoogtepunt
Om die fluitjie te hanteer by die AR-wêreldbekersewestoernooi was ’n persoonlike hoogtepunt.
In 2018 is sy aangewys as die Mpumalanga-skeidsregtersvereniging se nuweling van die jaar en in 2022 en 2023 as die Blou Bulle se vroueskeidsregter van die jaar.
