Meer as 6 000 inwoners sit met munisipale krediete
Die munisipaliteit sit met ’n allamintige 6 373 diensterekeninge wat onaktief is, met kredietbalanse.
Dit is onthul in antwoord op DA raadslid Helda de Klerk se vraag waarom daar so lank gesloer word met die uitbetaling van deposito’s en uitklaring terugbetalings.
Dorpsbeplanning werk tans, volgens me. De Klerk. op ’n bykans twee-jaar agterstand op uitklaring terugbetalings, hoewel die munisipaliteit ontken dat daar ’n agterstand op deposito betalings is.
Deposito’s word aan rekeninghouers gekrediteer sodra munisipale rekeninge gesluit word.
“As 6 373 onaktiewe rekeninge waarop daar krediete lê, nie ’n agterstand is nie, weet ek nie,” skud me. De Klerk kop.
Volgens die munisipaliteit word geslote rekeninge dikwels gekrediteer as verbruikersdeposito’s en uitklaring terugbetalings nog nie afgehandel is nie.
Volgens die nuutste November 2022 rekeningdata, is 6 373 onaktiewe verbruikersrekeninge ter sake.
Vir deposito betalings word slegs geverifieerde bankbesonderhede nodig vir uitbetalings.
Maar met uitklaring terugbetalings, moet registrasiedokumente van huiseienaars se prokureurs voorsien word.
Aldus die munisipaliteit het “werknemer onrus” ’n reuse agterstand met uitklaring terugbetalings tot gevolg gehad.
Voor die stakings het prokureurs reeds saamgespan om vuur onder dorpsbeplanning te maak, omdat daar toe al ’n beduidende agterstand was.
Me. De Klerk sê dat sy egter nie tevrede is met die munisipaliteit se antwoord oor deposito’s nie, en dat inwoners wat rekeninge sluit moet seker maak dat hul deposito’s aan hul terugbetaal word.
“Die munisipaliteit wag vir jou, werknemers gaan beslis nie Sherlock Holmes speel om eisers van die munisipaliteit op te spoor nie. Daar word jaarliks honderdeduisende so deur inwoners verloor,” waarsku sy.
Rekeninge, wat as onopspoorbaar gemerk word, word bloot op die sisteem gesluit, wat beteken die munisipaliteit steek die deposito’s in sy sak.
Naas geverifieerde bankbesonderhede, moet deposito eisers ook die kansellasievorm inhandig.
Met uitklaring terugbetalings, word ’n oordragvorm, naas registrasiedokumente, vereis.
“Inwoners gee op weens dienste wat al meer agteruitgaan, dit kan nie ons nuwe normaal word nie,” waarsku me. De Klerk.
• Inwoners wat voortslepende probleme met rekeninge en krediete ervaar, moet hul naaste raadslede kontak sodat dispute verklaar kan word.