News

Raad ruk Suid met Dennesig-Noord

Die munisipaliteit het steeds nog nie ’n eerlike verduideliking wat skeefgeloop het met die verkoop van erwe by Dennesig-Noord nie.

Die item sou op die raadsagenda dien, maar is deur waarnemende burgemeester, Marumo Sekgwele, van verlede week se laaste raadsitting vir die jaar, verwyder.

Raadslede eis deur die bank antwoorde op die kansellasie van die lotery vir erwe nadat dit in chaos, soortgelyk aan vorige jare, geëindig het.

Nadat die lotery aan die gang gesit is, is dit op die nippertjie gekanselleer weens onlus oor beweerde munisipale bedrog wat die lotery voorafgegaan het.
Die munisipaliteit het nog nie ’n woord gerep oor wat die bedrogbewerings behels nie.

’n Ondersoek is van stapel gestuur, maar ’n verslag oor die bevindings het nog nie voor die raad gedien nie.

Met die aanstelling van die nuwe munisipale bestuurder, Mandla Mnguni, op 1 September, is die bal egter weer aan die rol gesit.

Elektroniese trekkings sal nou gedoen word, het die Middelburg Observer verneem.
Die proses en ouditeurs wat die proses moet dophou, is egter nog nie aangestel nie.

Die aansoeke vir meer as 700 erwe word streng kontant van die hand gesit vir Suid Afrikaanse burgers wat in eerste eiendomme belê.
Daar is uit duisende aansoeke gesif waarna goedgekeurde aansoekers se besonderhede gepoel, en dan lotery-styl getrek word.

Honderde aansoekers het egter op die lotery toegesak met bewerings van bedrog en vereis dat die trekking gestaak word.
Intussen wag die gemeenskap en raad op duidelike antwoorde oor die bewerings, en die mense daaragter.

Die munisipaliteit bly die grootste grondeienaar as munisipaliteit en derduisende erwe van die Rondebosch ontwikkeling moet soortgelyk eienaars kry.

Die munisipaliteit het nie teen druktyd op koerantnavrae gereageer nie.

Back to top button