News

Jong vrou glo mans wou haar kaap

'n Vrou glo twee mans wat dwars voor haar voertuig gestop en uitgespring het met 9mm pistole, wou haar kaap.

Nicole du Toit se lewensmaat, Hernus Scholtz, het die gebeure geskets, aangesien Nicole nog te erg getraumatiseerd is.

Sy het Woensdagmiddag kort voor 15:00 hul tweejarige dogtertjie by die kleuterskool gaan haal.

Op pad terug, het sy opgery in Lilian Ngoyistraat in Kanonkop (Middelburg) se rigting.

Naby die afdraai na die krieketklubhuis en laagwaterbruggie, het sy gesien ‘n blou voertuig voor haar gaan links draai en het sy stadiger gery.

Die voertuig het egter nie links gedraai nie, ‘n wye draai oor die pad gemaak en dwars voor haar kom stop.

Twee mans het uitgespring en sy het gesien dat albei die mans wapens, wat lyk soos 9mm pistole, in hul hande het.

“Hulle het na haar kar toe gestap, die wapens op haar gerig en vir haar geskree: “come…come!”

Nicole het dadelik besef dat die mans ‘n gevaar vir haar en haar dogtertjie inhou, waarop sy ‘n U-draai gemaak het en terug gejaag het dorp se kant toe.

Sy het haar lewensmaat en haar pa gebel om van die gebeure te vertel. Sy het ook die kar beskryf.

Hulle is polisiestasie toe en was daar nie dadelik ‘n voertuig beskikbaar om uit te gaan nie.

Haar pa het intussen gaan rondry en ‘n blou voertuig, wat die beskrywing pas, in die parkering by die Kees Taljaard Stadion gesien.

Juis op hierdie tydstip het die polisie ‘n voertuig beskikbaar gehad en is Hernus en Nicole saam met die polisie na die parkering waar haar pa gewag het.

Sy het die mans en die voertuig herken en vir die polisie gesê dit is die twee mans wat die wapens op haar gerig het.

“Een van hulle was so uitdagend, hy het met ‘n drankbottel uit die voertuig geklim toe die polisie daar kom,” vertel Hernus.

Die twee mans het vir die polisie gesê hulle weet nie waarvan Nicole praat nie en dat hulle die hele dag poel gespeel het by die Pavillion kuierplek.

Die polisie het hul voertuig deursoek en ‘n gaspistool “wat lyk soos ‘n 9mm wapen” in die kar gekry.

Die twee mans is deur die polisie weg geneem.

Vanoggend het die familie verneem dat die saak nie op die hofrol geplaas is weens teenstrydighede in die verklaring en dat die mans laat gaan is.

Hernus het aangedui dat hy sy prokureur oor die aangeleentheid gaan sien.

“Ek weet nie hoe meer duidelik sy moes wees in haar beskrywings nie. Ons het die tipe kar genoem en die nommerplaat gegee. Die een ou het voor ons en die polisie erken dat hy die wapen op haar gerig het, maar dat dit net ‘n gaspistool was! Dit was egter nie in die aanvanklike verklaring nie, omdat dit mos na die tyd by die parkering gebeur het!”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button