Junie hoogtepunt: Tweede baba van ashoop dood gered met Madison se babakluis
In 2017 is die dorp geruk nadat ’n pasgebore baba dogtertjie met haar gesig na onder in ’n tuindrom in Joubertstraat gevind is.
Die babatjie was op voltermyn gebore.
Die storie het eerwaarde Kokkie Smit en sy St John’s Presbiteriaanse gemeente so geraak dat die kerk nie net besluit het om die weggooi baba Madison te doop en op die kerkgronde te begrawe nie, maar om ook ’n babakluis langs Madison, wat geskenk van God beteken, te bou.
Intussen is twee babatjies al van gewisse dood gered, met ’n pasgebore seuntjie wat in Junie in die kluis ontdek is, nadat ’n tienermeisie ook die vorige Desember haar babadogtertjie in die kluis gesit het.
Die Middelburg Observer het so berig:
Middelburg se babakluis het sy tweede wonderwerkie opgelewer.
‘n Pasgebore babaseuntjie met die naelstringetjie nog aan, het omstreeks 16:00 die babakluis se alarms geaktiveer.
Die seuntjie is opgeneem vir mediese ondersoek en Vrydag weer ontslaan in die sorg van maatskaplike werkers.
Die seuntjie is tans in ‘n huis van veiligheid geplaas en nie beskikbaar vir aanneming nie.
Dit is die tweede babatjie sedert Desember wat in die kluis op die St Johns Presbiteriaanse Kerk gevind is.
Op 23 Desember verlede jaar is ‘n dagoue babadogtertjie in die kluis gevind.
Die dogtertjie se ma het net dae nadat sy in die kluis geplaas is, tevoorskyn gekom.
Maatskaplike werkers staan nou ook die ma by om haar lewe om te draai, en moontlik eendag self vir haar dogtertjie te sorg.
Die kluis is juis aangebring om veiliger opsies vir vroue in krisis swangerskappe alternatiewe te bied.
Daar is besluit om die kluis te bou, nadat die liggaam van nog ‘n pasgebore babameisie in 2016 in ‘n tuindrom in Joubertstraat deur ‘n sakgrawer gevind is.
Die voltermyn babatjie se dood het eerwaarde Kokkie Smit van die Presbiteriaanse Kerk so aangegryp, dat hy en die ouderlinge van die gemeente besluit het om die kind se oorskot in die kerk se herrinneringtuin te begrawe nadat hulle haar die naam Madison (geskenk van God) gegee het.
Die kluis is opgerig meters van waar Madison ter ruste gelê is.
Die motivering agter die kluis is nie om babas weg te gooi nie, maar eerder vir hulle ‘n kans op oorlewing te gee met die nodige hulpbronne soos die kinderhof, maatskaplike werkers en eerwaarde Smit, wat beradingswerk behartig.
Daarmee saam is dit van uiterste belang dat die ma’s se identiteit beskerm word.
In die kluis is daar insiggewende inligting wat eers verwyder moet word, wat die ma’s van alle opsies rakende betrokkenheid by die kind se ontwikkeling mee voorsien, wat deurslaggewend was in die Desember geval.
‘n Reuse ondersteuningsnetwerk is vir dié moeders beskikbaar, sonder vrees vir vervolging.
Die seuntjie is gesond en ontvang goeie versorging.
Hy is met ‘n pasgemaakte bottel melk, snoesig toegedraai in ‘n warm kombersie in die kluis gelaat.
