Aanval op oud rugbyspeler in sy winkel was goed beplan
Mnr. Kapp het vir die aanvaller gevra "wat maak jy" waarna tot ses skote op hom en sy vrou gevuur is.
Die petrolbom- aanval vanmiddag waartydens groot skade aan verskeie winkels in die Fountain Corner winkelsentrum aangerig is, was goed beplan.
So glo mnr. Kappie Kapp, die teiken van die aanval.
Mnr. Kapp, wat onlangs ‘n knievervanging ondergaan het, vertel dat hy saam met sy vrou Judy-May in hulle winkel Jud’sies was, toe een van die ander huurders in die sentrum, ingestap en twee petrolbomme na hom, en een na sy vrou geslinger het.
“Dit is duidelik dat die aanval goed beplan was om die grootste skade moontlik aan te rig.”
Die petrolbomme was in die vorm van klein botteltjies, gevul met ‘n erg vlambare stof, wat dadelik groot skade aan die winkel aangerig het.
Mnr. Kapp het vir die aanvaller gevra “wat maak jy” waarna tot ses skote op hom en sy vrou gevuur is.
Die egpaar het na die agterkant van die winkel gevlug, en oomblikke later toe die aanvaller buite sig was teruggekeer om die vlamme te blus.
Die man het daarna sy eie voertuig met ‘n petrolbom in vlamme gehul, en ook ‘n petrolbom in sy winkel gegooi.
Op pad terug na sy winkel het hy ook skote afgevuur op mnr. Willie Pretorius wat wonderbaarlik die dood ontkom het nadat die aanvaller se wapen gestoor het.
Mnr. Pretorius het vermoed dat hy in die been geskiet is, maar het so vinnig gevlug dat hy ‘n kuitspier geskeur het.
Daar is verneem dat daar ook op ‘n tandartsassistent geskiet is, terwyl nog ‘n huurder gedreig is “ek skiet jou fokkin vrek”.
Die aanvaller se erg verbrande liggaam is kort daarna in sy winkel gekry.
Forensiese spanne is steeds op die toneel om ondersoek in te stel na die voorval.