News

Koeël tref dinosourus in Jud’sies aanval

’n Derde koeëlpunt is gedurende die naweek in ’n plastiek dinosourus by Jud’sies in Fountain Corner gevind.

Die koeëlpunt het genadiglik in die dinosourus vasgeslaan, terwyl twee ander koeëlpunte ook in die winkel herwin is.

Winkeleienaar, mnr. Kappie (Frikkie) Kapp, sê dat die winkel se mure ook verskeie koeëlgate het, nadat minstens ses skote op hom en sy vrou, Judy-May, deur Willie Bester, die naburige winkeleienaar van Horlosie Kliniek, afgevuur is.

Hulle is ook met minstens drie petrolbomme bestook maar kon gelukkig sonder besering agter uit hul winkel vlug.

Bester se swaer, Willie Pretorius, van die Brother borduurwinkel reg langs Jud’sies het ook agter uit sy winkel gevlug.
Daar is intussen verneem dat die verhouding tussen Bester en sy suster Petro, onlangs versuur het.

Die aanval Donderdag is op die Kapp egpaar geloods na jare se konflik oor ’n gestremde parkering reg voor hulle almal se winkels by Fountain Corner.

Woensdag het iemand weer op die parkering gestop, wat Bester tot raserny gedryf het.
Hy het ook glo twee maande gelede ’n uitsettingsbevel by die sentrum ontvang.

“Sy winkel was sy heiligdom, sy lewe,” het ’n kennis van Bester oor die naweek aan Middelburg Observer vertel.

• ’n Volledige onderhou met dié kennis, en waarom Bester dalk kop verloor het word in die week se Middelburg Observer gepubliseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button