Aanstelling van gesoute polisieman as hoof van Valke verwelkom
Die VF Plus het die aanstelling van generaal-majoor Nicholas Jacobus Gerber as hoof van Mpumalanga se direktoraat vir prioriteits-misdaadondersoeke (die Valke) verwelkom.

“Dit is die eerste keer sedert 2008 dat ‘n wit polisiebeampte as ‘n provinsiale leier van die Valke in Mpumalanga aangestel word. Dit is belangrik dat lede van minderheidsgroepe ook in ag geneem word met bevorderings en aanstellings,” sê die party in ’n verklaring
Genl.maj. Gerber is ’n ervare en gesoute lid uit die geledere van die polisie en sal broodnodige stabiliteit in die topstruktuur van die Valke bring.
“Die VF Plus was nog altyd gekant daarteen dat politieke aanstellings gemaak word van mense wat geen polisie-ervaring gehad het nie. Die aanstelling is daarom ‘n ligpunt in ‘n donker tonnel.
“Genl. maj. Gerber se eerste toets sal wees om te kyk of hy ervare en bekwame bevelvoerders, wat nie onderhewig sal wees aan politieke gedienstigheid nie, sal aanstel.
“Hy het geweldige uitdagings voor hom om misdaad in die provinsie te bestry. Hy is egter toegerus om dit te kan doen en beskik oor die nodige vaardigheid en kundigheid.
“Die VF Plus sal hom steun in sy stryd om misdaad in dié provinsie te bestry.”
•Die VF Plus in Mpumalanga het ook die inhegtenisneming gister van ‘n verdagte vir beweerde betrokkenheid by ‘n plaasmoord verwelkom.
Johan Nortje (66) is Sondag tydens ‘n plaasaanval vermoor en sy vrou (56) aangerand op hul plaas Wilgekraal in Badfontein in die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit.
Die 36-jarige verdagte is Maandagaand in eMalahleni/Witbank in hegtenis geneem. Dit het gevolg na gesamentlike pogings van die polisie se honde-eenheid en ander plaaslike wetstoepassingsagentskappe.
“Mpumalanga is ’n duidelike brandpunt met hierdie jongste plaasmoord, wat die vyfde plaasmoord in ’n baie kort tydsbestek in dié provinsie is.
“Die provinsie beleef die afgelope maande ’n baie ernstige toename in plaasaanvalle, met slagoffers wat hul lewe op ’n brutale wyse verloor het.
“Die wyse waarop boere, plaaswerkers en hul gesinne blootgestel word aan die ergste vorm van marteling, is onmenslik en mag nooit die norm word nie.
“Die VF Plus sal alle moontlike druk uitoefen om toe te sien dat die moordenaars in alle gevalle in hegtenis geneem en vervolg word.
“Die VF Plus eis spoedige en besliste optrede en geen borgtog wanneer die moordenaars gevang word nie.
“Die party spreek sy innige simpatie uit met mnr. Nortje se naasbestaandes.”
