Hoe meer kragonderbrekings, hoe meer misdaad
Die Sektor 4 Kanonkop GPF groep vra Kanonkop inwoners om ekstra bedag te wees vir misdadigers wat die afgelope twee weke die woonarea teiken.
Mnr. Joe van Rooyen van die sektorgroep sê dat daar reeds drie aande aaneenlopend toegeslaan is op bakkies wat se bande afgesteel is.
Die boewe teiken ook sleepwaens, motors, bakkies, karavane, motorhuise en wendy-huise.
Enigiets word weggedra.
Motorfietse, jet-skis en selfs tuingereedskap en fietse is hoog op boewe se misdaadlysies. Tuinmeubels en plante word ook gesteel.
Gisteraand is twee honde in Maroelastraat vergiftig voordat ’n sleepwa by die betrokke woning gesteel is.
Daar is ook die week in Jasmynlaan toegeslaan.
Die GPF waarsku dat daar veral gedurende beurtkrag in erwe rondgesluip word.
Volgens mnr. Arthur Hill van die Middelburg Dagpatrollie, help dit as mense by groepe soos hulle, of die GPF, aansluit.
“Mense moet besef dat hulle die volgende teiken kan wees,” sê hy.
Mnr. Van Rooyen stem saam, “hoe meer oë en ore daar is, hoe minder sal kriminele die kans kry om te steel”.
Sekere areas van Kanonkop was juis sedert Dinsdag, met meer as ’n 25-uurlange kragonderbreking, blootgestel gelaat omdat motorhekke nie werk nie, en dan op handgedrewe gestel word.
“Ons is bekommerd hieroor,” sê mnr. Hill.
Daar was ook ’n toename regoor die dorp met asblikdiefstalle.
Inwoners wat by die dagpatrollie wil aansluit kan mnr. Hill skakel by 083 870 9693.
Mnr. Van Rooyen kan geskakel word by 072 845 9726 vir meer inligting oor hoe om by die GPF in te skakel.
