Kabeldief duik in rivier om reaksie-offisiere te ontglip
Inwoners is keelvol vir kragonderbrekings weens kabeldiefstal. Daarom was daar vanoggend groot vreugde, nadat ’n vermeende kabeldief deur Mid Alarms aangekeer is.

Sy makker het weggekom deur in die Klein Olifantsrivier te duik.
Mid Alarms Operasionele bestuurder, Johan Oberholzer, sê hy is baie trots op sy span se blitsige optrede.
Bennie Landman (B-skofleier) het inligting ontvang dat twee persone besig is om die kabels oop te grawe langs die Klein Olifantsrivier, reg agter die Middelburg Brandweer.

Hy het dadelik vir reaksielede Albert Muller en Charles Smit uitgestuur om te gaan ondersoek instel.
Hulle het die twee verdagtes op heterdaad betrap, waar hulle nog besig was om die kabel uit te grou.
Die een booswig het omgespring, in die Klein Olifantsrivier geduik, geswem na die oorkantste oewer en in die rigting van Steelcrest High School gevlug.
Die ander verdagte kon egter nie vinnig genoeg wegkom nie en die reaksielede het hom vasgetrek.
Hulle het ook die elektriese afdeling van die Steve Tshwete Munisipaliteit in kennis gestel, wat hulle na die toneel gehaas het.
Kort daarna het die polisie opgedaag en die man gearresteer.

•Mnr. Oberholzer sê dit is duidelik dat die kabeldiewe al ’n ruk in daardie area besig is.
Buiten die grawe en pikke wat gebruik is om die kabels oop te grawe, het die reaksielede ook plastiekomhulsels in die omgewing gekry waar dit van die kabels verwyder is.
•Die verdagte se naam mag nie nou bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.
